ToekomsVenster: ’n Noodkreet van tieners

(Argieffoto: Unsplash/Melissa Askew)

“En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ʼn meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” – Matteus 18:5,6 (AFR53)

Die Buro vir Marknavorsing het ʼn ondersoek van stapel gestuur na die welstand van ons kinders. Die ouderdomsspektrum sluit 12- tot 20-jariges in. Altesaam 1 124 jongmense het aan die navorsingstudie deelgeneem. Sonder vrees vir teëspraak blyk dit uit die navorsing dat dit nie goed gaan met ons kinders nie.

Ek gesels met dr. Antoinette Basson en adv. Madelein Zietsman oor hierdie navorsing en deel iets van die gesprek met jou.

Jy mag redeneer dat jou kinders reeds uit die huis is of dat jy nie kinders het nie. Dalk is jy bekend met die uitspraak wat sê: “It takes a village to raise a child”. Ons dra gesamentlik verantwoordelikheid vir die wel wese van ons kinders, dis ons ereskuld.

Kom ons betaal dit met blymoedige harte.

Tweederdes van die kinders in die steekproef het aangedui dat hulle die afgelope jaar alkohol gebruik het en byna die helfte het toegegee dat hulle “dronk” was. Die onverantwoordelike gebruik en misbruik van alkohol, is ʼn saak wat elkeen wat die toekoms van ons land en die wel wese van ons kinders op die hart dra intens behoort te verontrus.

In die verslag het 26% van die deelnemers bevestig dat hul verbode middels gebruik. Dagga en oor die toonbank medikasie tel onder die gewildste middels.

Dan is daar ʼn verbysterende 71% wat aan ongewenste materiaal op sosiale media bekendgestel is. Van hulle het 87% aangedui dat hulle toegang tot pornografiese materiaal gehad het.

Hierdie verteenwoordig maar sommige van die ontstellende bevindings van die navorsing.

Baie belangrik is dat die navorsing bevind het dat “hoë vlakke van stres en stresvolle ouer-kind-verhoudinge” sleutelfaktore is wat aanleiding gee tot hierdie ontvlugtingsgedrag by tieners.

As dit nie goed gaan met ons kinders nie, gaan dit nie goed met ons nie – ook nie met ons land nie, ook nie met die kerk as sigbare verteenwoordiger van die Koninkryk op aarde nie.

Dit gaan nie goed met ons toekoms nie, ons het rede om besorg te wees en indringend na moontlikhede te kyk om hierdie toedrag van sake aan te spreek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.