ToekomsVenster: Om jou sonde te bely

(Foto: Timothy Eberly/Unsplash)

“Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe.” – Psalms 32:5 (AFR83)

Om jou sonde te bely is nie sommer net ʼn nagedagtenis of iets wat ʼn mens in die verbygaan doen en daarmee klaarkry nie. Sonde belydenis is ʼn ernstige saak, gewoon omdat sonde ʼn gewigtig saak is. Ons het juis gister vir mekaar gesê dat sonde opstand teen die gesag van God is en dus niks anders as rebellie nie.

Om te dink dat ʼn mens jou sonde kan wegsteek, is darem regtig dom. Nee, daar is niks wat vir God verborge is nie. Hy weet alles en sien alles, nie omdat Hy daarop uit is om mense uit te vang nie, maar juis sodat hy mense kan beskerm, ook wanneer hulle in die versoeking kom om die verkeerde te doen. Dink maar aan die “Onse Vader”-gebed.

Die Bybel sê: “as ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons van daardie sonde te reinig”. Lees 1 Johannes 1:9.

Sonde ontneem ʼn mens van lewensvreugde en vervulling. Dit bring skeiding tussen jou en God en jou medemens. Dit maak van die wêreld ʼn lelike plek.

Die erns waarmee belydenis van sonde gedoen word, word mooi demonstreer in Psalm 51 waar Dawid sy sonde met Batseba teenoor die Here bely. Daar kan geen twyfel wees dat Dawid ernstig is met hierdie belydenis nie. Die gedagte dat die Here Hom aan David kan onttrek, is onhanteerbaar. Daarom dat hy by God pleit om hom nie alleen te laat en aan homself oor te gee nie.

“Vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie! Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien.” – Psalms 51:12-17 (AFR83)

Om sonde te bely, is bevrydend. Jesus sê: “ek het gekom om vir jou die lewe te gee, die lewe in volheid, die lewe in oorvloed”. (Johannes 10:10)

Sonde beroof ons van daardie oorvloed, dit laat ons wakker lê, dit bring ongekende spanning in ʼn mens se lewe.

Die enigste rasionele ding om te doen is om jou sonde voor God te bely, dit met erns en in opregtheid te bely en met die voorneme om dit nie weer te doen nie.

Somtyds is die reis baie moeilikheid en neem dit ʼn tyd voordat ʼn bepaalde sonde oorwin is. God bemagtig ons deur sy Gees en is geduldig met ons. Die Here verstaan maar verskoon nie hardnekkige, moedswillige volharding met sonde nie.

Dalk herinner die Heilige Gees jou oor ʼn saak wat jy voor die Here in die reine moet bring.

Doen dit sommer nou, doen dit in opregtheid en ervaar die volle vryspraak van God.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen….dankie genadige God vir elke belofte in U woord wat ek my eie mag maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.