ToekomsVenster: Op pad na oorwinning

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“… want enigeen wat ʼn kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.” – 1 Johannes 5:4 (AFR83)

Gedurende hierdie week, ook in die lig van Pinkster en die gebeure daar rondom, wil ek graag saam kuier oor ʼn oorwinningslewe en hoe dit ʼn groter werklikheid in ons lewens kan word. Uiteraard is die Here se bedoeling sekerlik nie dat ons voortdurend in sak en as leef nie. Dit is tog nie lekker nie, is nie ʼn goeie getuienis vir die krag van die Evangelie nie en reken nie met die vele beloftes in God se Woord nie. Dit strook ook nie met die uitstorting van die Heilige Gees en hoedat Hy ons in ʼn oorwinningslewe wil lei nie.

Dit beteken hoegenaamd nie dat kinders van die Here nie ook allerlei uitdagings in die oë staar nie. Daar kom tye van moedeloosheid, selfs angstigheid en vertwyfeling. Die skrywers van die Bybel het dit eerstehands ervaar. Lees gerus die verhaal van die digter in Psalms 73. Dis bykans kru eerlik, rou en vol emosie. Dit help egter so baie omdat ons mense in die Bybel ontmoet wat radikaal eerlik is. Ons kan in ons eie daaglikse stryd met hulle identifiseer en moed skep.

Ek moet bely dat oorwinning en ʼn volkome oorwinningslewe iets is wat my bly ontwyk. Paulus vertel dat jy daarna jaag, maar dat dit somtyds net buite sy bereik voel. Dit is, na alles, die intensie wat belangrik is.

Oorwinning in die geloofslewe word stukkie vir stukkie ʼn werklikheid, dit is ʼn lewensreis, dit is soos heiligmaking. Ons is heilig vanweë die verlossing wat Jesus vir en namens ons bewerk het, maar word ook Heilig. Ons is eweneens oorwinnaars in Christus Jesus, maar ons loop ook die pad van en na oorwinning.

Dit is die spanningsveld tussen die alreeds en nog nie. Ons bly in daardie spanningsveld totdat Jesus ons kom haal.

Die Bybel is nugter en eerlik oor ons konteks. Let saam met my op na die besondere waarhede wat in hierdie gedeelte opgesluit is.

Bykans elke sinnetjie is ʼn stelling en ʼn stuk geestelike onderrig.

Lees dit en interpreteer dit vir jou eie lewe.

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

 “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.” – 2 Korintiërs 4:7-13 (AFR83)

Dink daaroor na, dan gesels ons môre verder.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.