ToekomsVenster: Prewel is ook bid

(Foto: Stephan Hauman)

“Terwyl sy so aanhoudend voor die altaar bid, het Eli haar mond dopgehou. Omdat Hanna in haar hart met die Here gepraat het en net haar lippe geroer het sonder dat haar stem gehoor kon word, het Eli gedink sy is dronk. Hy sê toe vir haar: ‘Wanneer gaan jy ophou met jou gedrink? Los die drank!’”. – 1 Samuel 1:12-14

Hanna is diep bedroef omdat sy nie ʼn kind het nie. Haar wens om ma te word bly, ten spyte van jare se wag en bid, net ʼn vae droom.

Sy bevind haar in die heiligdom waar sy alleen met God besig is. Sy worstel met God.

Dis nie ʼn gewone gebed nie.

Dit kreun uit haar binneste.

Dis seer, rou en stukkend. Sal haar wens dan nooit verwesenlik word nie?

Sy is sielsongelukkig. Sy bid tot die Here, terwyl sy vreeslik huil.

Eli sien hierdie desperate vrou. Haar optrede lyk vir hom verdag. Hy wys haar tereg, ʼn mens moet darem jou plek ken en eerbied hê vir die Allerheiligste. Nou waag sy dit jou wrintie waar in die teenwoordigheid van God terwyl sy onder die invloed is. Hierdie vrou behoort haar te skaam. Sy stel nie ʼn goeie voorbeeld nie. Sy moet onmiddellik uit.

Hanna ontken dat sy drank gebruik het en verduidelik vir Eli wat die toedrag van sake is. Hy wens haar die beste toe en sy en Elkana vertrek huis toe.

Die verhaal eindig goed. Die Here seën hulle met ʼn seun, Samuel.

Hy word, soos wat sy belowe het, na die tempel gebring om daar vir die Here te werk.

Wonder of jy al so stukkend was?

Lyk my of baie mense in die tyd waarin ons lewe stukkend is.

Dit ontstel dat ons kinders stukkend is.

Sommige ontvlug letterlik uit die lewe uit.

Dit net te hartseer vir woorde.

Die Here sien jou raak en hoor jou prewel-gebede.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.