ToekomsVenster: Protesteer as dit by ons kinders kom

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ʼn groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink. – Matteus 18:6 (AFR83)

Ek luister gister in my motor na ʼn geselsprogram wat handel oor kindermolestering, ontvoering en moord. Die aanbieder is duidelik ontsteld en eindig die program met die woorde: “Something is wrong, something is terribly wrong”.

Interessant het ek self net daardie oggend ʼn onderhoud gevoer met Ada Buys van Patch in Helderberg. Dit is ʼn eenstop-sentrum waar kinders wat gemolesteer is, bygestaan word. Ek noem dat ek iewers gelees het dat een uit vyf kinders in Suid-Afrika gemolesteer word. Sy wys my op die nuutste navorsing wat daarop dui dat die syfer ʼn ontstellende een uit drie kinders is.

In die program waarna ek geluister het probeer een van die aanbieders perspektief gee. “Suid-Afrika is ʼn getraumatiseerde land”, sê hy. Hy meen dit is ʼn geval van: “hurt people hurt other people”.

Die afleiding wat ek maak is dat daardie aaklige hoofstuk in ons land se geskiedenis wat nooit nooit goed gepraat kan word nie, ook hier moet pa staan. Iets in my raak ontsteld. Mense wat kinders geweld aandoen het geen verskoning nie. Jy is immers die volwassene. Jy is veronderstel om onderskeidingsvermoë te hê.

Die Bybel se wie ʼn kind geweld aandoen, nou ja, die gedeelte is bekend. Nee wat, geen verskoning kan aangebied word wat die mishandeling of molestering van ʼn kind regverdig nie. Nog erger wanneer ander familie die skuldige beskerm, die kind die skuld gee, en in ontkenning leef.

Dit is om van naar te word.

Ek en my vrou kuier ʼn paar dae in die bosveld. ʼn Meerkat het die nes, van wat vir my lyk na kwartels, uitgesnuffel. Ek vermoed daar is eiers, dalk selfs kleintjies, in die nes. Die natuur kan wreed wees en die meerkat geniet ontbyt. Die voëls egter protesteer met alles wat hulle is en het. Hulle raas en vlieg rond en probeer die meerkat verwilder. Ongelukkig is hulle nie in staat om hul kleintjies te beskerm nie.

Ons is nie voëls nie. Ons is beelddraers van die lewende God wat onder opdrag leef. Die opdrag is dat ons kinders vir die Here sal grootmaak.

Suid-Afrika, waarheen is jy op pad? Die land is op vele terreine bankrot. Wil ons nou ons eie kinders aan die kapers van die samelewing oorhandig?

Nee, ouers moet strate toe.

Ons stemme moet luidkeels gehoor word. Ons moet geraas maak. Ons moet standpunt inneem. Die boodskap moet helder en duidelik wees: as jy aan ʼn kind vat het jy moeilikheid.

Punt.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.