ToekomsVenster: So moet ’n dissipel van Jesus ook leef

(Foto: H Shaw/Unsplash.)

’n  Paar verse uit Joh. 15:1-8  – “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Die woorde “In My bly” val my op. Dit word verskeie kere herhaal om daarmee die sleutel aan te bied waarmee die belofte van vrug ontsluit word.

Die beeld van die wingerdstok is gepas en doeltreffend. Dit is tog duidelik dat net takke wat aan die wynstok verbind is kan vrug dra. Die lote wat dood is word afgesny en daar word vuur mee gemaak. Die ander lote dra oorvloedige vrug.

Somtyds word die lote gesnoei ten einde meer vrug te verseker. Die snoeiproses mag onaangenaam en ontydig voel maar die boer weet wat Hy doen.

Daar kom seisoene van snoei. Dit is met die oog op die vrug. Die vrug verheerlik, komplimenteer en getuig van die boer.

Om “in Hom te bly” is om bewustelik aangewese op Hom te lewe. Dit is om jou afhanklikheid van Hom te besef, te verklaar en deur ʼn vrugbare lewe te konkretiseer.

Sonder om ʼn mens onredelik met jouself besig te hou kan ʼn mens tog vra na die aard, kwaliteit en omvang van vrug in jou lewe.

Toegegee, die mens wat vrug dra wat by die bekering pas roem nie daarin nie. Die roem is by en vir die boer.

Ons is onverdienslike slawe maar dit reduseer ons nie tot nommers en statistieke nie. Ons is nie gebruiksartikels waarvan sondermeer ontslae geraak word sodra dit sy doel gedien het nie. Ons word dan juis geroep om meer en meer vrug te dra.

Ons is altyd in seisoen, altyd vrugbaar en altyd dankbaar.

Dit is belangrik dat ons ʼn “in Hom” leefstyl, spiritualiteit, getuienis en gebed ontwikkel.

Jesus se lewe is ʼn klinkklare getuienis van so ʼn verbintenis. Net wat Hy die Vader sien doen, doen Hy, wat die Vader Hom sê om te doen, doen Hy. Hy en die Vader is Een.

So kan en moet ʼn dissipel van Jesus ook leef en getuig. Wat ek Jesus sien doen, doen ek.

Waar Hy lei sal ek gaan. Ek en Hy, Hy en ek is een.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.