ToekomsVenster: Sy troue liefde

Argieffoto: Pixabay.com

“U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys.” – Psalms 63:4

Die lewe is buitengewoon kosbaar. Om soggens wakker te word, nog ʼn dag te beleef, veral saam met jou geliefdes, is onuitspreeklik wonderlik. Om te kan sien, hoor, beweeg, deel te neem, iets by te dra, ʼn verskil te maak, buitengewoon besonders.

Wat is groter as die lewe self?

Sjoe, dis nie maklik om ʼn antwoord daarop te vind nie.

Ek sou Dawid wou aanraai om dalk ʼn ander vergelyking te tref eerder as die lewe.

Wat byvoorbeeld van U troue liefde is meer werd as geleerdheid, posisie, status, applous?

U troue liefde is meer werd as goud en silwer, as besit, roem en eer.

Dit is uiteraard ook waar, maar meer werd as die lewe?

Anders gestel sê Dawid; dis nie die moeite werd om te lewe sonder God nie, of Hy gee betekenis aan die lewe, of die lewe het geen sin as dit nie oor Hom gaan nie.

Kom ons kyk of ander vertalings ons kan help.

Ons blaai Die Boodskap-vertaling raak: “Dit is beter om u groot liefde te ervaar as om baie oud te word sonder U”.

Kom ons probeer die NLV: “U troue liefde is beter as die lewe.”

Die Bybel vir almal se weergawe klink so: “U doen wat U belowe, en dit is beter as die lewe self”.

Nog ʼn vertaling: “Omdat u goedertierenheid beter is as die lewe, sal my lippe U loof”.

Lyk my Dawid sê presies dit: God se liefde is groter, heerliker, meer verdienstelik, meer begeerlik, meer werd as die lewe self.

Nou dan laat dit ons met een vraag – wat is die belangrikste in jou lewe?

Is dit God, sy geregtigheid, sy eer, lof en roem? Is dit sy liefde, nabyheid, trou en sorg?

Hoe dit ook al sy, ons stem met mekaar saam, die lewe het geen sin as ons dit nie in verhouding met God leef en beleef nie.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.