ToekomsVenster: ‘Van die berg af lyk alles anders’

berge-wolke-stiltetyd-danfador.jpg

(Foto: danfador/Pixabay)

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” − Kolossense 3:2 (AFR53)

Ivor Swartz skryf: “Om perspektief te hê, is om te weet, van die berg af, lyk alles anders”.

Kom ons bedink hierdie stelling saam met mekaar.

Perspektief is die ding wat ons dikwels in die steek laat. Ons word oorweldig deur omstandighede en bring dinge met mekaar in verband wat niks met mekaar te doen jy nie.

Een ding loop verkeerd en jou hele lewe, roeping, waarde en geloofwaardigheid is skielik in jou gedagtes ter sprake. Jou hele huis stort ineen en jy sukkel om weer op te staan. Jy bevind jouself in die dal van doodskaduwee, niks maak sin nie en dat die Here jou Herder is, ontwyk jou tans.

Hoe langer jy op hierdie trajek reis, hoe meer deurmekaar en desperaat word dinge. Al wat jy sien is deure wat toe is, mense wat vir jou kwaad is en jou beskinder.

Jy posisie as werknemer, ouer, eggenoot, gelowige is ter sprake.

Jy voel soos ʼn mislukking en die negatiewe gedagtes oorweldig jou tot so ʼn mate dat jy nie kan funksioneer nie.

Ek dink dat baie van ons hierdie scenario aan eie lyf beleef.

Die Psalmdigter sê vandag was daar nog trane maar môre lag ek al weer.

Ons draai dit om, vandag lag ons maar môre huil ons weer want, so het ons geleer, van lekker lag kom lekker huil.

“Moet net nie buite jou kassie beweeg nie, iemand gaan jou ʼn taai kopklap gee en vra wie jy dink jy is?”

Nee wat, dit is glad nie lekker om jou in die posisie te bevind nie.

Kom ons dink weer na oor die opmerking bo: “Van die berg af lyk alle anders”.

Hoe kom ʼn mens op die berg kan jy vra.

As ʼn mens gewoond is aan dal-ervarings, hoe vind jy die kronkelpaadjie na bo.

Ek dink die antwoord is voor die hand liggend:

“As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”  – Kolossense 3:1 (AFR53)

“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” – Filippense 4:8 (AFR53)

Dis uitdagend, om die minste te sê. Die goed wat rondom ons gebeur wil ons aandag ook daarby betrek.

Dat ʼn mens nie wêreld- en lewensvreemd moet leef en optree nie, is so.

Hoe maak jy ʼn verskil, hoe bid jy as jy nie weet wat rondom jou aangaan nie? Tog word ons geroep om ons telkemale te vergewis van die merktekens van God se heerskappy en koninkryk in hierdie wêreld, van dit waarheen ons op pad is.

Dit maak hierdie liedjie se woorde tog so waar: “This world is not my home, I’m just passing through”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.