ToekomsVenster: Vat grond

Foto: pixabay.com

Ja, die Here sê vir die mense van Juda en Jerusalem: “Julle moet weer begin, soos ’n boer wat ’n nuwe land ploeg en nie koring saai tussen die dorings nie. – Jeremia 4:3

Soos ek al dikwels aangedui het moet ons getuienis iewers grond raak. As ʼn mens dink aan die twee dimensies van die kruis is daar die vertikale en die horisontale. As een van die dimensies ontbreek is dit nie ʼn kruis nie. Die horisontale dimensie het alles te doen met ons interpersoonlike verhoudinge op aarde. Immers, God het die mens vir die aarde geskep en ʼn bepaalde opdrag gegee. Daardie opdrag naamlik om die aarde tot voordeel van ook ander te bestuur (dit vra groot verantwoordelikheid en die talle omgewingskrisisse wat ons internasionaal beleef is geen goeie getuienis van wat ons met die opdrag gedoen het nie) is nêrens opgehef nie. Jou verhouding met God kry betekenis, integriteit en inhoud in die wyse waarop jy jou liefde vir God teenoor jou medemens uitleef.

Basetsana Kumalo, voormalige mej. Suid-Afrika en tans sakevrou, in gesprek met Gert van der Westhuizen, stemme redakteur van Netwerk 24, sê ons het ʼn nuwe geslag “pioniers” nodig in Suid-Afrika. My verstaan van ʼn pionier is dat dit iemand is wat gaan waar ander nog nie gegaan het nie en selfs huiwer om te gaan. Hulle ploeg nuwe land. Hulle maak die aarde bewoonbaar. Hulle gryp die verbeelding aan. Hulle droom groot. Soos die bekende Angus Buchan sê “as jou droom jou nie laat wakker lê nie vanweë die grootsheid daarvan is dit te klein”. Dit is my eie woorde maar ek dink die strekking is korrek.

Ons droom te klein. Klein drome getuig van klein geloof en desnoods van ʼn klein en ontoereikende Godsbeskouing. Ons God is groot en almagtig. So openbaar Hy homself telkemale in die geskiedenis. Hy het ook nog nie verander nie.

Daar heers kommer in die harte van baie mense oor die toekoms van ons mooi land. Dit is nie nou die tyd vir klein geloof en ophou droom nie. Ons het geloofspioniers nodig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Here Jesus open asb ons geloofs oe en ore…niks my God is vir U onmoontlik nie….U bly in beheer. Dankie vir U liefdevolle genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.