ToekomsVenster: Vier jou verlossing

Argieffoto (Foto: Yannick Pulver/Unspalsh)

“Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” – Genesis 3:1 (AFR53)

Dit het alles by die skepping begin. Wat God gemaak het, was uitermate mooi, volmaak, niks het geskort nie.

Die hoogtepunt was toe God mense maak. Hulle kry opdrag om die tuin wat God aangelê het te versorg en die bronne wat daarin is verantwoordelik aan te wend. Hulle kry ook opdrag om mekaar mooi op te pas en ʼn nageslag daar te stel.

Ook daarin is ʼn merkwaardige gawe weggelê. Die omvattende gawe van menslike belewenis word verken. Liggaamlikheid wat op ʼn besondere wyse betrek word. Die vreugde van intimiteit.

Dan die vrug van die liefde, ʼn baba, ʼn nageslag.Twee word drie, word vier, word agt. Die mensheid kry beslag.

God maak die mens egter met die vermoë om keuses te maak. Dit demonstreer net hoeveel vertroue God in sy handewerk gehad het.

Hy het die keuse gehad om beelddraers te maak, maar hulle so te bedraad dat hulle opdragte slaafs uitvoer. Dit stel God nie tevrede nie. Wat Hy maak is soos Hy, ambassadeurs en verteenwoordigers, skouspelagtige wesens met fenomenale potensiaal.

Nou verskyn God se teëparty op die toneel. Hy konfronteer Adam en Eva met gefabriseerde onwaarhede. “Julle kan God wees, gode wees”.

Die mens is reeds soos God, net nie God nie.

Maar God bedoel dit nie opreg met julle nie, sê hy, hy wil julle van jul potensiaal ontneem. Daag God se aanspraak op jul lewens uit. Eet van die boom se vrugte. Doen presies die teenoorgestelde van wat God gesê het julle nie mag doen nie.

Die geskiedenis is bekend. Die mens word intens bewus van sy naaktheid.

Naaktheid is ʼn metafoor vir sy geskonde toestand. Wat God mooi gemaak het, is nie meer so mooi nie. Wat rein was, het besoedel geraak. Wat ewig was, is nou sterflik. Wat goddelik was, is nie aards nie. Wat reg was, is nou verkeerd.

Goddank dat Hy die mens nie in sy ellende laat nie. Reeds daar word God se teëparty gevonnis. Sy gewraakte misleiding word geopenbaar. Die belofte van die Messias Koning word rugbaar. In die volheid van die tyd sal God sy seun stuur om hierdie toedrag van sake om te keer en God se oorspronklike bedoeling met die mens te herstel.

Eeue later sterf die Seun van God, self God, aan ʼn vloekhout om die gebeure in die paradys ongedaan te maak en die mens in sy eertydse glorie te herstel.

Vreemdelinge word kinders, wie ver was kom naby, wie sondaars was, word heiliges.

Jou naam is geskryf in die boek van die lewe en van die Lam.

Vier jou verlossing vandag.

Sing ʼn loflied, steek ʼn kers aan en wees opgewonde!

Die dood, die ewige dood, ʼn toekoms sonder God, het sy greep op jou lewe verloor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.