ToekomsVenster: Volharding enduit volgehou

volharding-uithou-aanhou-wen-draf-duin-sand

(Foto: @jeremy_justin/Unsplash)

“My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” – Jakobus 1:2-4

Covid-19 is seker een van die mees traumatiese gebeure in my leeftyd en waarskynlik joune ook.

Die hele aangeleentheid was totaal en al buite ons verwysingsraamwerk. Kan jy nog iets van die ontstellende gebeure herroep?

Afsondering en sosiale afstand, ontsmettingsmiddels by elke deur waar jy inloop, temperatuurmeters voor jou kop en registers wat voltooi moes word.

Skole en besighede wat aanvanklik geheel en al gesluit is en daarna amper soos met beurtkrag, net ʼn paar op ʼn slag, kon oopmaak.

Inenting en woordestryd in die verband wat dikwels baie onvriendelik verloop het.

Hospitale wat nie meer pasiënte kon akkommodeer nie en gange vol desperate mense wat gelê en wag het op ʼn ventilator.

Dit was so sleg dat besluite geneem moes word oor wie se kans op oorlewing die grootste en waarskynlikste was en dat die behandeling daarheen gekanaliseer is.

Met verwagting het ons geluister na die aankondigings van ons geagte staatspresident dat die dra van maskers, en alles wat daarmee saamgaan, nog eens verleng is.

Intussen het mense ver van mekaar gesit in eredienste en daar was beperkings op hoeveel mense die aanbiddingsgeleenthede mag bywoon.

Miljoene mense wat in die proses gesterf het, hoe hartseer tog nie.

Toe op ʼn dag kom die aankondiging dat die dra van maskers nie meer nodig is nie. Hier en daar sien jy nog iemand wat soos ʼn vreemdeling in Jerusalem lyk, maar die meeste het gou vergeet.

Hoe lank is dit, twee, drie maande gelede en Covid-19 is vergete. Toegegee daar is klaarblyklik nog plekke waar Covid-19 hartseer veroorsaak, dalk selfs in Suid-Afrika, maar dinge het in ʼn groot mate genormaliseer… wat dit ook al mag beteken. Dit het toe verbygegaan.

Die spreekwoord “this too shall pass” kom by my op, die gunsteling-sêding van ʼn staatspresident van die VSA, Abraham Lincoln. (Abraham Lincoln was ʼn Amerikaanse prokureur en staatsman wat vanaf 1861 tot sy sluipmoord in 1865 as die 16de president van die Verenigde State gedien het.)

Dit is ʼn spreekwoord uit die Middeleeue, omstreeks 1 200 n.C. Die spreekwoord beteken dat alle materiële toestande, hetsy goed of sleg, verbygaande is

Alhoewel die spreekwoord nie net so in die Bybel voorkom nie, is die saak nie onbekend nie. Een so ʼn voorbeeld vind ons in Galasiërs 6:9: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel”.

Ek weet nie wat die trauma is wat jy tans beleef nie maar, soos met Covid-19, sal dit ook verbygaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.