ToekomsVenster: Vooroordeel en vrees

vooroordeel-en-vrees

Foto: Jeremy Perkins/Unsplash.com

Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? – Jak. 2:2-4

Jakobus maak sy voorligting baie konkreet deur hierdie praktiese voorbeeld.

Ons leef in ʼn wêreld waar aansien baie belangrik is. Wie jy ken en wat jy het spreek boekdele. Ons ploeg met anders se “kalwers” solank dit iets kan bydrae tot ons aanvaarbaarheid.

Let op die opskrifte in koerante. Die naam van die persoon waaroor die beriggewing eintlik handel  word nie eers in die opskrif vermeld nie, maar die verwantskap is belangrik. Dis die dogter van so en so en die seun van die en daardie. Eers in die artikel kry daardie mens ʼn naam. Dis die verwantskap wat tel.

Ek weet van verskeie gemeentes wat iemand soos ʼn boemelaar by die deur laat staan het terwyl ander lidmate die kerkgebou binnestap. Die ongemak is voelbaar en mense staan verleë omdat hulle nie weet hoe om die vreemdeling in hul midde te hanteer nie. Soms word die persoon selfs die deur gewys. Ons is immers darem vooraanstaande mense, nie waar nie?

Ek wil myself nie eers vir ʼn enkele oomblik verontskuldig nie. Ek is ook geneig tot vooroordeel en vrees. Die vername kry ʼn sitplek daar waar almal kan sien as ek oënskynlik diep in gesprek met die belangrike persoon die gang afstap. Ai, hoe ydel is ons nie? Mag die Here ons vergewe.

Een van die merkers wat Jesus aanlê is “Ek was in die gevangenis”. Mens beland daar as gevolg van ʼn ernstige misdryf. Jy het in die oë van die gemeenskap gesondig, die norme oortree in so ʼn mate dat mense aanstoot geneem het en dat jy in aanhouding is. Diewe, verkragters, moordenaars, bedrieërs, is daar plek in jou hart vir sulke mense?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.