ToekomsVenster: Wat staan ons te doen?

(Foto: Stephan Hauman)

“Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” – Jeremia 29:7 (AFR83)

Suid-Afrika staan voor ʼn gebeurtenis wat deurslaggewend mag wees. Ek verwys uiteraard na die algemene verkiesing wat volgende jaar plaasvind.

Allerweë word ongemak met die huidige bestel uitgespreek.

Ten tye van die skryf en opneem van hierdie dagstukkies, geld fase 6-beurtkrag.

Ons het al is gewoond geraak daaraan dat jy jou lewe moet inrig volgens die gepubliseerde skedule van die elektrisiteitsvoorsiener.

Ons vererg ons nie meer nie en ons raak gewoond aan die status quo.

Baie van ons is bederf.

Ons het ander maatreëls in plek sou die ligte afgaan.

Duisende eenhede wat sonkrag omskakel vir huishoudelike en ander behoeftes, pryk op die dakke van Suid-Afrikaners.

Dit is vir die meeste mense egter onbekostigbaar. Ons vergeet van hulle.

Ons hoor van die ongerief wat hulle verduur. Dienslewering bestaan op vele plekke nie. Om te midde van die chaos wat in sommige gemeenskappe heers te oorleef, is op sigself ʼn prestasie.

Môreoggend moet die kinders skool toe. Vanaand moet hulle skoon kom. Iewers moet mense aan hul normale liggaamsfunksies aandag gee.

Strate is riviere van onwelriekende, onverwerkte riool. Aaklig. Verskriklik aaklig.

Die vraag is tereg wat ons daaraan kan doen?

Ons woon in die voorstede waar dinge nog geredelik beskikbaar is.

Wanneer strate versorg word, is dit in ons omgewing omdat die plaaslike owerheid se salarisse uit ons sakke kom.

Om ons gelukkig te hou, is dus voordelig.

Maar dit is daardie sukkelende mense van alle ouderdomme wat ʼn mens se hart raak.

Baie van hulle praat Afrikaans, soos ek en jy.

Ons sien en hoor hulle.

Ons hoor die ontsteltenis.

Ons harte bloei.

Wat kan ons doen? Ons kan ʼn stem wees en word vir die wat nie ʼn stem het nie.

Ons kan hand uitsteek en probeer help.

Ons kan saam met mense wat bymekaar kom om hul ontsteltenis te kenne te gee, protesteer.

Ons kan identifiseer met mense in hul nood.

Ons kan registreer en opdaag by die stembus.

Ons kan bid.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.