ToekomsVenster: Wie se sonde vergewe word

Argieffoto (Foto: Patrick Tomasso/Unsplash)

“Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se Gees daar geen valsheid is nie.” – Psalms 32:1-2 (AFR83)

Baie dankie dat ons kan saam kuier, dit is altyd ʼn baie groot voorreg. Ek wil graag hierdie week Psalm 32 as wegspringplek vir ons oordenking op Maroela Media gebruik.

Vers een en twee is eintlik spieëlbeelde van mekaar, kyk weer daarna. Wat in die eerste vers gestel word, word in die tweede vers herhaal. Beide die verse begin met die woorde “dit gaan goed met die mens”. Daar is inderdaad nie ʼn mens op aarde wat nie begeer dat dit met hom of haar sal goed gaan nie. Die Psalmdigter help ons om die kuns van die lewe met mening te omarm en voluit te leef.

Die tweede reël van die twee verse is eweneens dieselfde. “Wie se oortredings nie gestraf word nie” en “vir wie die Here die oortredings nie toereken nie”.

Die derde reël klink verskillend, maar lewer eintlik presies dieselfde resultaat. Enersyds, “wie se sonde vergewe word” en dan “in wie se Gees daar geen valsheid is nie”. As jou sonde vergewe is, is daar nie valsheid te bespeur nie omdat God in Christus Jesus ʼn volmaakte werk doen.

Dat ons almal sondaars is, is inderdaad só. 1 Johannes 1:9 stel dit baie duidelik: “as ons beweer dat ons nie sonde het nie is ons leuenaars en is die waarheid nie in ons nie”.

Tog is daar dan die wonderlike uitkoms in Christus Jesus ons Here. Wie sy of haar sonde voor die Here bely word geregverdig deur die bloedoffer van Jesus aan die kruis.

Dit is inderdaad ʼn domastrante mens wat leef sonder die erkenning van sy eie sonde en ongeregtigheid. So ʼn mens moet baie blind wees. ʼn Mens hoef net die Bybel te lees en te sien wat God van ons verwag om gou agter te kom dat ons nie op daardie standaard kan leef nie.

Ons oortredinge is ook nie in die eerste plek teenoor ons medemens nie, maar teenoor die heilige en lewende God.

Hy vervul ons met ontsag, juis omdat Hy die Heilige is. In hom is daar geen onsuiwerheid nie.

Ons hoef egter nie in ons sonde vasgevang te probeer leef, liewer, oorleef nie. Hoe gouer ʼn mens dit wat verkeerd is hanteer, hoe beter. Sonde word uiteindelik ʼn ondraagbare las wat die lewe stukkie vir stukkie uit jou wil pers.

Dit is dom om met jou sonde te probeer saamleef, veral in die lig van die eerste en tweede vers van hierdie Psalm.

Jy hoef nie swaar te kry nie. Aanvaar die aanbod van God in Christus Jesus en word met Hom versoen.

Die Bybel sê dat ons sonde soos ʼn skeidsmuur is tussen ons en God. Die skeidsmuur is egter afgebreek vanweë die volmaakte offer wat Jesus aan die kruis van Golgota gebring het. Gaan lees gerus maar Jesaja 59:2.

Loof sy wonderlike Naam.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.