ToekomsVenster: Wys my die pad

(Foto: Pixabay/Pexels)

“So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: ‘Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie’.” − Genesis 45:24

My vrou het ʼn vroegoggend afspraak in Durban gehad en moes uiteraard vroeg by die lughawe wees ten einde haar vlug te haal.

Die vorige dag was ʼn heerlike sonskyndag maar dit het gedurende die nag gereën, met die gevolg dat digte miswolke die pad gedurende die vroeë oggendure bykans onbegaanbaar gemaak het.

Ek persoonlik hou nie daarvan om in die nag te bestuur nie en dit was steeds donker gewees. Die sig was beperk en ek was bewus van die gevaar om myself op pad te bevind.

Genadiglik kon ek haar veilig aflaai en weer veilig tuis kom.

Die hele ervaring het my aan die geloofslewe laat dink.

Daar is tye dat ʼn mens helder sien, bykans seker is waarheen jy op pad is. Met relatief min moeite kom jy by jou bestemming uit. Dan is daar dae dat die uitsig op die dag en op die toekoms uitermate beperk is. Dit is heeltemal te verstane dat ʼn mens gespanne en onseker voel. Jy kyk uit vir bakens, vir die strepe op die pad, maak seker dat jy nie oor die eilandjies ry nie.

God, sy woorde en beloftes, is soos bakens wat rigting gee en jou veilig laat voel. Hierdie bakens is vrylik beskikbaar en moet net in die gedagtes opgeroep word ten einde perspektief te gee. Daar is talle beloftes in God se Woord waar hy belowe dat Hy in tye van onsekerheid intiem met ons op pad is.

ʼn Mens is dankbaar vir die tye waar die geloofspad begaanbaar is.

Wanneer die mistigheid jou onseker laat voel kan jy jou beroep op die vele beloftes in God se Woord. Hy sal jou nooit teleurstel nie.

Daar is ʼn lied met die volgende woorde:

U wys my die pad as ek vra waar ek moet stap

skaars bid ek Here, sien my tog raak

het U klaar ʼn pad gemaak.

Miskien bevind jy jouself vandag op so ʼn pad. Dis moeilik om te onderskei waar die volgende tree gegee moet word. Die Bybel sê: “Hou jou oë op Jesus, die begin en die voleinder van die geloof”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.