Gedagte vir die dag: Tomas, ongelowig of eerlik?

man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Johannes 20:28).

Wat sou Tomas vir ons op ons pad kon sê? Hy sou kon vertel hoe die Here hom geroep het, van sy saamwees met die Here, van sy vrees toe hy gehoor het Jesus gaan Jerusalem toe, en hoe die bodem uit sy lewe geval het toe Jesus gekruisig is, van die diepe depressie wat oor hom toegesak het sodat hy niemand sou sien nie, nie eens sy vriende nie.

Maar dis nie waaroor Tomas bo alles sou wou praat nie. Hy sou net wou vertel van die aand toe Jesus hom ná sy opstanding ontmoet het. Die hele geleentheid was vir hom gereël! Jesus het Tomas geken, nie die ongelowige Tomas nie, eerder die eerlike Tomas. Want Tomas het nie gesê “Ek glo” as hy nie regtig geglo het nie. Hy het nie gemaak asof hy verstaan as hy nie verstaan het nie. Tomas was ’n bouer en ’n skrynwerker, ’n man met ’n meetstok in sy hand. Hy wou weet en meet. En vir sulke mense wat eerlik is in hul soeke na geloof, ook eerlik in hul twyfel, het die Bybel baie plek – mense soos Job en die Prediker.

As jy soms deur die nag van twyfel moet worstel, mag jy weet jy is nie alleen nie. Praat met Tomas. Hy sal vertel hoe Jesus geglimlag het: “Kom vat aan My, voel My!” Hoe hy op sy knieë voor Jesus beland het: “My Here en my God!” Karl Barth, ’n reus onder die teoloë, het graag gesê: “Geloof is ongeloof wat jy nek omdraai.” Geloof is ’n avontuurtog. Elke keer as die twyfel en ongeloof op jou toesak en jy daardeur worstel, elke keer wanneer jy sê “Almiskie! Ek glo tog!” vorder jy op Tomas se pad.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

FM ·

Dankie vir geloof wat ongeloof nek omdraai.

Dankie Jesus vir Tomas se eerlike soeke en U liefde.
Amen

Yvonne ·

Dankie Here dat ek vandag ook weer iets van Tomas kan leer….U die kenner van my hart weet presies dat ek struikel oor soveel dinge….dankie vir U genade baie groter as al my skandelike struikels

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.