Lees: Efesiërs 5:1-20
Dank aan God pas by julle. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. (Efesiërs 5:4, 20)
Kersfees is nie net ’n tyd van gee nie, maar ook van dankbaarheid vir die gawes wat ons uit God se hand ontvang. Wanneer ons om ons kyk, is ons geneig om dit wat ons het met mense wat veel meer het, te vergelyk. Probeer hierdie Kersfees om die teenoorgestelde te doen. Vergelyk die dinge wat God jou gegee het met die besittings van jou tuinwerker of huishulp. Baie mense is so gewoond daaraan om geskenke met Kersfees te ontvang, dat hulle soms vergeet om dankbaar daarvoor te wees. Maak hierdie Kersfees ’n punt daarvan om dankbaar te wees vir elke gawe wat na jou kant toe kom.
“Dankbaarheid veronderstel die besef van ’n gawe ontvang. Ons vind dit so vanselfsprekend dat ons soveel ontvang, dat ons nie eers meer besef dat ons ontvang nie. Dit kan egter heelwat moeite kos om ‘dankie’ te sê. Om te kan ontvang, is miskien moeiliker as om te gee. Ontvang beteken om jou hand oop te maak en so erken jy dat jy nie vanself kan regkom nie, maar afhanklik is van ander. Dankbaarheid is die eenvoud van die hart,” lui ’n anonieme aanhaling.
Verwoord hierdie Kersfees jou eie dankbaarheid teenoor die mense wat hulle hande vir jou oopgemaak het. En verwonder jou opnuut oor die liefde en die gawes wat jy van hulle ontvang het. Onthou terselfdertyd om vir God dankie te sê.
Hemelse Vader, baie dankie vir al die gawes wat ek van U en ander ontvang. Hierdie Kersfees wil ek spesiaal moeite doen om dankie te sê vir alles wat ek ontvang het. Amen.
Love die stilte tyd! Mens is geneig om te vergeet van stilte tyd in vandag se gejaagde lewe.
Daarom wil ek ook maar vandag DANKIE se vir alles. Nie net vir bessitings nie maar ook vir die
skatte in ons lewens wat voorkom in die vorm van familie en vriende. Ook dankie se vir ons goeie gesondheid asook die liefde en genade wat ons so onverdienstelik van ons Vader ontvang. Amen