Gedagte vir die dag: Uitleen?

hand_stiltetyd_jackson-david_pixabay.jpg

Foto: Jackson David, pixabay.com

Lees Psalm 112

Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree. (Psalm 112:5)

Hierdie uitspraak oor uitleen is teenstrydig met alle goeie finansiële raad. Want moenie dink hier is van enige rente sprake nie, nee, nee! Reeds in Psalm 15 het ons gelees dat die mens wat in die Here se woonplek mag kom en op sy heilige berg mag vertoef, nie sy geld op rente uitleen nie (vgl. Ps 15:5).

Dit is suiwer barmhartigheid dié, en daarom word “ontferm” en “uitleen” in dieselfde asem genoem. Met boonop ’n aanvulling wat daarop dui dat dit die regte ding is om te doen. (Laasgenoemde is nie nuus nie. Die Bybel is ’n handboek van ontferming, met volop voorbeelde.)

Uit die breër verband van dié psalm blyk dit ook dat hier ’n mens beskryf word met wie dit goed gaan. Só lui die eerste vers se begin: “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien …” Of, in die 1933/53-vertaling: “Welgeluksalig …”

Maklik gesê! sal baie mense verontwaardig uitroep, ook gelowiges. En dan sal hulle jou lang stories kan vertel van lieg en bedrieg, van beloftes wat nie nagekom word nie en van onbeskoftheid en selfs dreigemente as hulle oor die geleende geld gaan vra. Jy kan hulle maar glo: Die een wat met bak hande kom staan en mooi vra, en die een wat jou ignoreer of vyandig aankyk as jy later navraag doen, is meestal dieselfde mens.

Nee, om uit te leen, is om moeilikheid te soek. Wie kan hier- teen stry?

Die Bybelskrywers sal. Dit is hulle wat God se seën en jou bereidheid om uit te leen aan mekaar verbind.

Ag, Here, sal hulle my weer glo as ek nogmaals sê ek het regtig niks om hulle te leen nie? Ek met die oorvloed, waarvan U so goed weet?

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierreli ·

Psalms 112:5 Afr 1933/53
Tet. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, Jod. wat sy sake volgens reg besorg.

Dis altyd lekker om iemand te kan help sonder om enige iets terug te verwag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.