Gedagte vir die dag: Vashou

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Openbaring 3:7-13

Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou … (Openbaring 3:10)

Die Bybel se veelbesproke laaste boek bevat sommer hier aan die begin sewe briewe, een aan elk van die sewe gemeentes in die destydse Romeinse provinsie Asië. Dié gemeentes het op vele gebiede gesukkel en onder meer swaar gebuk gegaan onder die Romeinse bewindhebbers. Daar was ook interne struwelings, en oral het dwaalleraars en ander kansvatters op die loer gelê.

Die brief aan die gemeente in Filadelfia is die voorlaaste een van die sewe. Teen hierdie tyd is die patroon vir die Openbaringleser reeds bekend, byvoorbeeld die herhalende woorde by elkeen, onder meer: “Ek weet alles wat julle doen”; “Aan elkeen wat die oorwinning behaal”; “Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê”. Ensovoorts.

Die gemeentelede in Filadelfia kry dié persoonlike bemoediging: “Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou …” (v. 8).

Ons weet nie meer wat die presiese omstandighede was wat daar geheers het nie (nie een van daardie sewe gemeentes bestaan meer nie), maar ons ken ware troos as ons dit hoor. En wat wil jy in jou bedroewende situasie méér van Jesus hoor as: Ek weet dat jy nie sterk is nie; daarom sal Ek jou vashou?

Hy, die Here van die kerk, weet alles van beproewings. Hy weet ook hoe dit is om in die steek gelaat te word wanneer jy  jou donkerste uur beleef. Sy getrouste volgelinge het dit aan Hom gedoen; Hy sal dit nooit aan ons doen nie. Méér: Aan die kruis het Hy uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark 15:34), sodat ons nooit dáárdie verlatenheid sal ken nie.

Ek klou met my hele wese aan U vas, Here! En ek voel u hande onder my.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonia ·

Dis ons krag in hierdie tyd, om te weet dat ons God en Verlosser ons nooit in die steek sal laat nie – ons vind al die nodige leiding, krag en bemoediging in die Woord van God – jy laat jouself en jou geliefdes in die steek as jy nie God se Woord opsoek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.