Gedagte vir die dag:  Veel beter!

voetpad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Hebreërs 8:1-7

Maar nou het Jesus ’n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ’n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is. (Hebreërs 8:6)

Die Hebreërsskrywer probeer sy lesers, wat die Ou Testament deeglik ken, daarvan oortuig dat die ou dinge inderdaad verby is (soos Paulus dit in 2 Korintiërs 5:17 beaam) en dat die nuwe gekom het. Die Nuwe. En alles hieraan, alles aan Hóm, is beter.

Die rol van die destydse hoëpriester bied aan dié skrywer ’n heerlike vergelykingspunt om Jesus se werk te illustreer: Dié hoë amptenaar het indertyd gereeld namens sy mense tot God geroep; die nuwe Hoëpriester het langs God gaan stelling inneem, aan sy regterhand. Vir ewig en altyd.

Die ou dae was bloot die voorloper, soos ’n skaduwee wat om die hoek verskyn net voordat die Werklikheid sy opwagting maak. Eens was alles wat die offers betref mensewerk, die vrug van Moses se insig; nou het die Goddelike dit beslissend vervang.

Hier lê ook ’n les vir ons, die Nuwe-Testamentiese Jesusvolgelinge: Moet nooit die Ou Testament geringskat nie; moet dit egter nooit oorskat nie. Jesus het immers self gesê Hy het beslis nie gekom om die Ou Waarheid tot niet te maak nie, maar om dit sy volle betekenis te laat kry (vgl. Matt 5:17-20).

Daar is min geskrifte wat die verband tussen die Oue en die Nuwe so duidelik uitwys soos Hebreërs. Gelowiges moet weet hoe arm hulle is as hulle by die Ou Testament verbyblaai.

Maar Hebreërs wys ons ook op die onvoltooidheid van die ou verbond. Dit het uit die staanspoor geroep na iets groter en beter. En duideliker. Sigbaarder. Soos ’n skaduwee wat uitgroei tot ’n Mens. Soos ’n woord wat Vlees moes word.

O vleesgeworde Woord van God, pleit tog namens my by u Vader!

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Wanneer jy ‘n skaduwee (die ou Verbond,Testament,die wet) om ‘n huis se hoek sien kom dan kyk jy daarna. Maar wanneer die persoon,Jesus verskyn dan kyk jy op na Hom en die skaduwee maak nie meer saak nie. Jesus het die wet kom vervul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.