Gedagte vir die dag: Versadig

 rivier_kalmte_rustig_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Psalm 23:3 – 1933/1953-vertaling).

“Versadig en verkwik,” het my ouma altyd gesê nadat sy ’n lekker bord kos geëet het.

“Versadig en verkwik,” het ek ook al dikwels ná ’n lekker ete gesê. Verkwik, want soos die woordeboek sê: Ek voel voldaan. Die kos op my bord was genoeg. Ek is versadig, my maag is vol. Ek is gelukkig en tevrede.

Dankbaarheid het ook die manier om ’n mens versadig en verkwik te laat voel. Net soos daardie voldane gevoel wat kos aan ’n maag gee, so kan dankbaarheid help om ’n hart vol maak.

In Psalm 36 getuig Dawid daarvan: Hy vertel van mense wat God se goedheid raaksien en onder sy vleuels skuiling soek. Dit is wat dankbare mense doen. Van hulle sê hy: “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge” (Ps 36:9 – 1933/1953-vertaling).

In sy beroemdste psalm sing Dawid oor hoe God ’n mens se hart voldaan maak: “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Ps 23:3 – 1933/1953-vertaling). Ook wanneer jou lewe vol onrus is, help God jou deur jou hart vol te maak: “As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel” (Ps 94:19 – 1933/1953-vertaling).

Dis deur dankbaarheid dat ons God se verkwikking ontvang. Dankbaarheid is die hande waarmee sy genietinge en vertroostinge in ontvangs geneem word. Só word ons hart vol. En dan kan ons nie anders nie as om te sê: “Nou is ek versadig en verkwik. Ek begeer niks meer nie; ek voel voldaan. Die kos vir my siel is genoeg, my hart is vol. Ek is gelukkig en tevrede.”

Here, dankie dat U ons hart vol maak van u genietinge.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.