Vir Vadersdag: Koop vir jou ’n storie

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Vriende het ons vertel dat sy mense hom nie meer kon versorg nie. Ek het lank gedink. Miskien moes ek gaan kyk.

Toe ek hom sien, was ek effens teleurgesteld. Dit was duidelik dat daar vir ’n paar jaar nie aandag aan hom gegee is nie. Maar my seun was oortuig: hy is vir ons bedoel. En so het ons ons eerste en enigste bootjie gekoop by ’n ou oom wat nie meer die viswaters kon aandurf nie.

Die rooi verf was nie meer heeltemal so rooi nie en die enjin effe rokerig. Die stokke en katrolle wat saam met die bootjie gekom het, was van ’n vorige generasie. Die soort waarvan ek as klein seuntjie gedroom het. My hart het uitgegaan na die ou oom toe ons wegry met sy jare lange vriend. Soos ’n pa wat sy kind moet groet. Met net herinneringe wat oorbly.

En so het ons besluit dat die bootjie se naam Weeskind moes wees. Want die oom sou hom nooit weer sien nie, en die bootjie het nogal hartseer en verwaarloos gelyk. En toe is dit ek, my seun, Weeskind, en die Vaalrivier se karpe. Ons eerste ekspedisie is fyn beplan. Die opwinding was groot. Weeskind se eerste tree in ’n nuwe lewe. Ai, daardie aand se gesukkel. Maak nie saak hoe ons spook en spartel nie, die enjin wil nie aan die gang kom nie. Ons roei toe maar die kajuitbootjie na sy eerste bestemming in ’n nuwe gesin. Ek probeer die hele nag my teleurstelling wegsteek oor die simpel ou enjin wat nie wil vat nie.

Vroeg die volgende oggend kom die eienaar van die huis langs die rivier met sy blink skiboot aangery. Ek vertel hom van die onklaar ou enjin, van die kat in die sak wat ek gekoop het. Hy lag, maar darem met medelye. Miskien moet jy die petrolpypie koppel. Ek vra of hy dink ek is onnosel, kyk self, die pypie is stewig aan die tenk gekoppel. Ja, meen hy, maar die belangrikste is dat die ander ent van die pypie ook aan die enjin gekoppel moet wees. En so hoor ek en my seun vir die eerste keer Weeskind se stem. Musiek in ons ore.

Vir jare het ek en Ivan en Weeskind die betowering beleef wat net die diep waters waarin groot visse bly, kan bring. Toe trek ons see toe. My seun reken Weeskind moet ’n nuwe naam kry. Want hy is nie meer ’n weeskind nie. Getrou aan die nuwe dialekte wat ons in die Suid-Kaap leer ken, word Weeskind toe Klong. Maar Vaalriviervissermanne is maar dom op soutwaters. En Klong word verwaarloos.

Tot nou die dag. My gewete pla my. Klong kort aandag. Die enjin word nuut geverf en versien. Die ratkaskabels wat styf geword het van min gebruik word vervang. Die sleepwa word herstel. Klong kry tot ’n elektroniese fishfinder en vlekvryestaal-visstokhouers en nuwe gemakstoele.

En ’n paar weke gelede hervat ek en my seun en Klong ons verhouding op die Knysna-meer. Alles is ingepak. Dis volmaan. Ek het my seun lanklaas só gesien. My hart is vol. Die ankers is uitgegooi. Weliswaar is Knysna-meer nie die Vaalrivier nie, en kabeljoue nie karpe nie, maar ons gaan probeer. En die aand is mooi. Wie weet wat wag…

En dan die teleurstelling. Nes daardie eerste keer toe Weeskind nie wou vat nie. Dié keer is dit die hoeke. Waar is die hoeke? Ek het dan so deeglik voorberei en ingepak. My seun lag. Nadat ankers gelig is en ek met baie moeite gaan hoeke koop het, is dit heelwat later weer net ons drie: ek, Ivan en Klong en die diep waters.

Die vis het nie saamgewerk nie, maar geen soutwatervis kan ’n aand beter maak as wat dit is wanneer ’n pa en ’n seun saam na die volmaan kyk en elke nou en dan lag oor visvang sonder hoeke nie.

En so, terwyl my kind ver in ’n ander land is, dink ek aan Paulus se raad oor die tyd. Hy sê ons moet dit uitkoop. Koop die tyd. Dit kom nie verniet nie. Doen die moeite. Jou lewe is herinneringe saam met hulle vir wie jy lief is. Koop vir jou stories. Koop vir jou geluk. Dis verniet. Maar baie duur.

En as iets bekend geword het, is dit in die lig. Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. (Efesiërs 5:14-16)

Uittreksel uit Sielskos: Stories van verlange en hoop deur Koos van der Merwe
Uitgegee deur Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

SNEL ·

Pragtig geskryf, dit nou baie geniet…hoor ons vir die eerste keer Weeskind se stem, te oulik en ja, so op die oop water is dit die ding wat jy graag wil hoor as jy klaar n lyn natgemaak het en wil terug gaan om maar vis en chips te gaan koop, want die vis het nie gebyt nie en jou mond water vir n ou stukkie lekker vars vis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.