Gedagte vir die dag: Volop seën

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder bose geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak. (Handelinge 5:16)

Dit moes vir Lukas, wat hierdie gebeure rapporteer, iets besonders gewees het om van die genesings te verneem of self te sien. Hy was immers ’n dokter, en die meeste dokters deur die eeue aanvaar nie sommer wondergenesings nie. Daar het ook geweldige dinge plaasgevind, getuienisse wat bevestig dat die Gees van God inderdaad Jerusalem en omstreke geskud het.

Ek het al van wondergenesings op gebed gehoor, baiemaal. Ek het eenmaal ’n wondergenesing deur geloof gesien, en waarskynlik ook ’n tweede. Maar hier na Pinkster het God spesiaal opgetree: om vir mense te wys waaroor die koninkryk van God werklik gaan, om heel te maak, om gebrokenes te help, om hulpeloses tegemoet te kom. Liggaamlik en emosioneel.

Daar kom tye in God se “ekonomie” dat Hy seën ryklik uitstrooi soos net na Pinkster. Dink ook aan die keer toe Jesus die skare mense by die meer gevoed het. Dan demonstreer Hy sy mag mildelik. Maar daar kom ook tye in God se “ekonomie” dat Hy ons net genoeg gee om elke dag te leef, én te leer om uit te kom met wat ons van Hom ontvang. Niemand kan sy “begroting” verstaan nie, soos ’n kind dikwels nie haar liefdevolle pa se sake verstaan en sy redes hoekom hy sekere dinge van haar weerhou nie. Aan die ander kant, soos ’n wonderlike Vader verras die Here ons dikwels met onverwagte seën en emosionele sekerte, omdat Hy ons behoeftes werklik ken.

Die Geesvervulde mense van Jerusalem en omstreke het op daardie tydstip in geestelike oorvloed geleef. Daar sou gou weer tye kom dat hulle die wind van voor kry. Dit gaan dikwels met ons ook so. Maar in oorvloedige én “skaars” tye: God regeer en die “ekonomie” uit sy hand is onberispelik omdat Hy jou liefhet.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.