Vroue in Beweging: Hoe leer ʼn ma haar dogters om goeie vroue te wees?  

Foto: Juan Encalada/Unsplash

Ons het klaar met huisgodsdiens en my dogtertjie het rustig aan die slaap geraak. Ek sit en kyk vir haar en wonder oor haar toekoms. Haar hele lewe lê nog voor haar uitgestrek soos ʼn verfdoek wat nog wag om geverf, geraam en onderteken te word deur die skepper van die kunswerk. Daarna moet die kunswerk nog ʼn plekkie kry waar mense daarna kan kyk en kan sê: “Hierdie is kuns, hierdie is mooi.”

Wanneer ʼn mens kyk na ʼn kunswerk, kyk jy nie net na die kwashale en die kleur wat gebruik is nie. Daar word dieper gekyk. Daar is soveel faktore wat ʼn kunstenaar beïnvloed soos ander kunstenaars, kultuur, geloof en selfs die ekonomie. Wanneer jy deur die oog van die kunstenaar kyk met al die faktore in ag genome, kyk jy anders, baie dieper en kry die kunswerk lewe.

Ek is lief vir kuns, ek is lief vir kunsgeskiedenis en so kyk ek ook na my dogter. Sy is ʼn skoon verfdoek waarop sy self moet skilder. Ek is egter die een wat invloed het in haar lewe met ons Vader as haar rigting.

ma-dogter-shine-photos-unsplash.jpg

Foto: unsplash.com/shine-photos.jpg

As ek eendag voor haar kunswerk wil staan en sê, “dit is kuns, dit is mooi”, moet ek die insette lewer wat haar vorm, moet ek deel wees van haar kwashale en ingeweef wees tussen die olieverf en doek wat die beeld skep, wat die mooi skep, wat die wêreld eendag gaan kan sien. Wat dan ook eendag gaan kan hang in die hemel aan die mure van die kamer wat die Here vir haar voorberei het.

Die vraag hoe ʼn ma haar dogters leer om goeie vroue te wees, maal gereeld deur my kop. Ja, ek leer haar van waardes, van Jesus, van sonde en van die ewige lewe. Maar tussen leer en leiding gee deur, is ek ook maar net ʼn gebroke vrou met foute en tekortkominge. Ek het egter tot die besef gekom dat dit ook goed is.  Ons almal is gebroke in ons poging om perfekte kinders van God te wees, maar dit beteken nie ons is nie goeie vroue nie. Die blote feit dat ons goeie vroue wil wees en goeie vroue groot maak beteken dat ons goeie vroue is.

Ek glo vas dat ons God moet vra om ons te help om ons dogters goed groot te maak. Ek luister onlangs na ʼn podsending oor Josua 10 vers 12 – 14: Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna ʼn volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. So ʼn dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir ‘n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.

Dit het my mammahart soveel nuwe hoop gegee. As die almagtige God die son kan laat stil staan en sorg dat die maan nie roer nie, as ons almagtige God tyd kan laat stil staan … hoeveel te meer sal hy vir ʼn mammahart doen wat smeek om haar by te staan om haar dogter goed groot te maak.

Met God aan jou kant kan jy jou dogters so groot maak om bruide van God te wees.

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Natuurlik moet jy self daarna streef om ʼn goeie rolmodel te wees, jy moet die voorbeeld wees vir jou dogter. Ons as mammas moet respekvol, geduldig, liefdevol en ondersteunend wees teenoor ons eie lewensmaats en gesinne. Ons moet ook ons dogters leer van selfrespek en hoe om hulle grense te stel. Ons moet onafhanklikheid aanmoedig in ons dogters. Ons moet hulle leer om goed en nederig en duidelik te kan kommunikeer en sodoende dan gesonde verhoudings te skep.

In my werk sien ek baie gevalle waar daar dogters is wat nie noodwendig hierdie ondersteuning by die huis ontvang nie, dogters wat sonder mammas of pappas groot word. Ek sien hierdie dogters raak met ons Helpende Hand Help Hetta-projek waar ons hulle dan ook fisieke, emosionele en geestelik ondersteun. In die gevalle wonder ek soms of die Here ons nie ook soms roep om mammas vir ander dogters te wees nie.

Ek self het ʼn wonderlike ma en skoonma met wie ek gesonde verhoudings het. Daar is egter ook twee tannies in my lewe wat vir my ma-figure as kind was. Toevallig was albei se naam Susan. Een tannie Susan was my kleuterskoolonderwyseres met wie ek tot vandag toe nog ʼn verhouding het. Die ander tannie, my vriendin se ma, tannie Santjie met wie ek steeds mee gesels en ʼn goeie verhouding het.

Die punt is dat daar lê elke aand ʼn spierwit verfbord in ʼn pienk bedjie wat wag om geverf te word. Ons as mammas is nie perfek nie, maar moet streef daarna in God se genade om deur ons gebrokenheid ons dogters goed groot te maak, ons moet staat maak op die meesters wat ons gelei het in ons vrouwees en ons moet vertrou dat ons self vir die Here kan vra om tyd te laat stil staan. Met hierdie geloof kan ons berge versit nie eers te praat van goeie dogters groot maak nie.

Deur Rene Roux, bestuurshoof: media – Solidariteit Helpende Hand

Foto: pixabay.com/Miller_Eszter.jpg

Hierdie maand se tema vir die Vroue in Beweging Inisiatief is Hoe leer ʼn ma haar dogters om goeie vroue te wees? Ons pak hierdie tema aan saam met die Help Hetta projek van Solidariteit Helpende Hand wat maandeliks aan 3 500 jong meisies sanitêre ware voorsien. Hierdie jong meisies is ook dogters van hul moeders en gaan ook eendag moeders wees. Daarom juis kyk ons na hierdie tema met ʼn blye hart. Die tema is ook vir my baie kosbaar omdat ek een van drie dogters is en my ma was en is steeds vir ons ʼn rolmodel, sy het ons geleer hoe om goeie dogters te wees en hoe om bruide van God te wees. Dit is belangrik dat elke ma net weet opnuut herinner word van hierdie groot taak, nie om ʼn skuldgevoel te begin nie maar om mekaar by te staan as ʼn sterk gemeenskap van vroue wat graag ons volgende generasie vroue uitnemende wil groot maak om sodoende pilare van hoop in hulle gemeenskappe te wees. Besoek  Help Hetta om by te dra tot sanitêre ware vir ons dogters wat dit die nodigste het. Vir meer inligting besoek gerus Vroue in Beweging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.