Gedagte vir die dag: Wat is dissipelskap?

Bybel_Kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe sê Jesus  vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Johannes 8:31-32, Bybel in Afrikaans 1983/1992)

Wil jy waarlik ’n dissipel van Jesus wees? Bly getrou aan sy woorde. Om getrou aan sy woorde te bly, beteken om dit noukeurig toe te pas. Wanneer ons die woorde van Jesus toepas, gaan die waarheid van God vir ons oop. En wanneer die waarheid van God vir ons oopgaan, bring dit bediening, verlossing, bevryding, insig, wysheid, reinheid.

Kennis van God kom nie deur enige iets anders as gehoorsaamheid aan God nie. Om konferensies by te woon, seminare, Bybelstudies, huisgroepe, kerkdienste is wonderlik en goed, maar as dit nie gepaardgaan met die noukeurige en getroue toepassing van Jesus se woorde nie, bring dit geen ware kennis van God nie. Dit is belangrik dat ek en jy ons harte ondersoek: Is ons regtig besig met Jesus? Is ons regtig besig met die Heilige van God, die Koning van die heelal – die Baas? Is ons regtig daarop ingestel om onder sy gesag te staan? Doen ons wat Hy sê, of kies ons net die gemaklike, gawe dinge uit? Is ons onderdanig aan Jesus se gesag wanneer mense ons beroof en bedrieg? Staan ons onder Jesus se gesag wanneer ons geliefdes ontrou is aan ons? Is ons waarlik getrou aan Jesus en sy woorde?

Hierdie vrae is nie ligtelike vrae nie, maar doen moeite daarmee. Ons is besig met die God van die ewigheid. Om erns met Hom te maak, is om erns met die lewe te maak.

Vader, lei my op die weg van gehoorsaamheid.

Bron: Wees oor niks besorg nie deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Dis verseker een ding om te sê ek is ‘n Christen en anders om Sy navolger te wees. JESUS leer my en wees my genadig. Amen

Yvonne ·

Here U weet hoe dikwels ek struikel…dankie dat U my nooit verlaat nie

Luzanne ·

Amen! Ja geloof kom deur die woord te hoor en in volle werking deur gehoorsaam te wees aan U wil. Net in U Jesus. In verhouding met die Koning van die Konings. Help my om in alles vir U te kies en 1ste te stel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.