Gedagte vir die dag: Water en woestyn

Foto: pixabay.com

Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word (Matteus 4:1)

Jesus is gedoop (Matt. 3:16) en toe na die woestyn gelei om versoek te word. Hy het reguit van die water na die woestyn gegaan; reguit van die plek van verkwikking – na die plek waar Hy deur spot, twyfel, honger en dors gesaboteer is.

In die water – die plek waar sy geloof versterk is, waar Hy aanvaar is en waar Hy sy opdrag ontvang het – het die woord van God óór Jesus gekom: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart” (Matt. 3:17). En in die woestyn – die verlate plek van gevaar en vrees – het die Woord van God úit Hom gevloei: “Daar staan in die Skrif geskryf … Daar staan mos in die Skrif geskryf … ” (Matt. 4).

Ons lewe lank sal dit gaan oor die water en die woestyn. Die lewe op aarde voordat die ewigheid vir ons aanbreek, is eintlik maar een lang reis deur die woestyn. Daarom moet ons onsself soveel moontlik en so dikwels moontlik deurdrenk met gebed, eredienste, aanspreeklikheidsvriendskappe en potgooie terwyl ons iewers heen ry. Ons moet verby onsself beweeg tot in die Woord. Sodat wanneer ons die water verlaat waar die Woord óór ons kom en ons terug is in die woestyn van kantoorpolitiek en skoolverpligtinge, die Woord ook úit ons sal vloei. Kragtig. Met oortuigingskrag en die diep gevestigde geloof wat nie afhang van omstandighede nie.

Jesus, verkwik my sodat ek gereed sal wees vir die ongelyk paaie van die groot en wye vlaktes. Amen.

Bron: Reis lig deur die lewe deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen!

John ·

Nou hoe kan dit wees dat Christus wat as baba gedoop sou moes wees, volgens sekere gelowe, dan self na die woestyn gaan…’n baba? Nou wil die NGK, wat die RK skynbaar nou meer as ooit slaafs navolg, n ander predikant straf omdat hy doen wat in die Bybel staan? Wie dwaal?

Hennie ·

Die NG kerk doop groot want die doop het in die plek van die besnydenis gekom,lees maar self op waar dit staan. Jesus is as Kind besny, die eerste geslag Christene is nie gebore as kinders van Christene,so hulle almal moes convert van Jode na Christene. Jy sal ook lees waar n hele gesin gedoop word, dws party kon nog kinders wees en ander groot mense. As jou ouers nie gelowiges is nie sal jy ook groot gedoop word,Maar as jy n Christen is dan word jou kind gebore in die volk van God gedoop. Hoop jy sal die verduideliking verstaan

OWO ·

Jesus se doop is nie ‘n voorbeeld van hoe mense vandag gedoop moet word nie.Jesus se doop was uniek met ‘n buitengewone betekenis.Dit word duidelik uit Johannes se huiwering om Hom te doop.Johannes het ‘n bekeringsdoop gedoop en Jesus het nie bekering nodig gehad nie.Hy dring egter daarop aan,en sy rede is dat Hy alle geregtigheid moet vervul.Hy moes ter wille van ons alle geregtigheid vervul.Daarvoor het Hy nie net aan die kruis in ons plek gesterf om ons met God te versoen nie.Hy staan al in sy doop in ons plek.Jesus se doop het dus ‘n baie ryker betekenis as om maar net ‘n voorbeeld daarvan te wees dat ons juis grootgedoop moet word.Johannes se doop het heeltemal ‘n ander betekenis gehad as die Christelike doop wat Jesus eers lank daarna ingestel het.Paulus het mense wat Johannes se doop ontvang het agterna met die Christelike doop gedoop.

Elna du Preez ·

Die dagstukkies van Dalene Reyburn is geestelik so verrykend. Ek kry elke dag ‘n boodskap van haar wat ek met my saamdra. Baie dankie Dalene, mag God jou ryklik seen!

Von ·

Here as ek in n woestyn land dan is U reeds daar en ek sal nooit alleen wees nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.