Gedagte vir die dag: Wie het die reg …?

bid_hande_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 24

Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? (Psalm 24:3)

Net ná die geliefde Psalm 23 volg hierdie een. En net soveel onverdunde troos soos ons by sy veelgelese voorganger gekry het, net soveel onsekerhede gooi hierdie een in gelowiges se gesig.

Hoor dan: Terwyl die psalmdigter met ’n geloofsekere stelling afskop (“Die aarde … behoort aan die Here” – v. 1), word dit dadelik gevolg deur ’n vraag-en-antwoord wat ons stomslaan. Die vraag is bekend – Wie mag in die Here se teenwoordigheid kom? (vgl. v. 3) – maar die antwoord uiters ontstellend.

Hier blyk dit in soveel woorde dat die heilige God slegs heiliges by Hom verdra: dié met rein hande en ’n suiwer hart. Hulle met ’n skoon gewete en ’n onberispelike verlede (vgl. v. 4).

Sjoe. Hierdie reguit antwoord diskwalifiseer ongeveer almal wat die psalm lees. Ons moes maar ná die vorige een ophou lees het … As enigiemand boonop enige twyfel oor die digter se oortui- gings het, ruim hy dit met die volgende versekering uit die weg: Die beloning vir dié goeie gedrag is groot: niks minder nie as God se seën en God se sorg (vgl. v. 5).

Waar laat dit ons met die minder goeie gedrag? Ons wat swaar dra aan ons verlede en soms sukkel om asem te kry vanweë ’n gewete wat ons verstik?

Dit laat ons met geen ander keuse nie as dít: Vra die Een met die reinste hande om jou op te tel en tot voor sy Vader te dra. Vra Hom wat die suiwerste hart het om jou en jou saak voor die Regter te bring. Laat Hy, die Onbevlekte, jou skarlaken afwas en vir jou wit klere aantrek.

Ek het geen voet om op te staan nie, Here Jesus. Geen verweer nie. Ek het net vir U. Ontferm U oor my!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat ek , sondaar, vir U saak maak…ek is gewas met die rein bloed van Jesus Christus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.