Waarom is my liggaam belangrik vir God?

gesig-sproete-oë-sig

Foto: Christopher Burns/Unsplash.com

Gen. 2:7: “Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde.”

Ons liggame is vir die Here kosbaar en belangrik. Daar is duidelike redes daarvoor. Die eerste rede is dat Hy ons geskape het.

Ons moet dit verstaan – God het ons gemaak. Geen mens is deur die duiwel geskape nie. Trouens, Satan kan nie skep nie – hy kan net breek. God is die Groot Maker, Satan is die Groot Breker.

Elkeen van ons, ja ook ons liggame, is kunstig deur die Here gevorm. Hoor net Dawid se woorde in Ps. 139:13-16: “U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed! My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is.”

Ons liggame is vir God belangrik. Jesus het immers sélf vlees geword. Dink daaraan – daar was die oomblik van sy konsepsie toe die Heilige Gees oor Maria gekom het. Hy was vir 40 weke in Sy moeder. Hy was ‘n babatjie wat aan haar gesoog het en doeke gedra het. Hy was ‘n peuter, ‘n kleuter, ‘n tiener, ‘n jongman, ‘n volwassene. Hy was 100% God, maar tegelykertyd ook 100% mens. Hy het volkome “liggaamlikheid” ervaar – net soos ons, behalwe dat Hy nie gesondig het nie. (Heb. 4:15)

Die belangrikheid van ons liggame word verder daardeur bewys dat Jesus se liggaam ook gefolter en gemartel is ter wille van ons, ja, ook vir ons liggame. Onthou jy die woorde van die profeet Jesaja? (53:5): “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Kan ons ooit oor die waarde en betekenis van ons liggame wonder wanneer die profeet so duidelik sê dat Jesus nie net vir ons sondes gesterf het nie, maar ook vir die genesing van ons liggame? Sy kruisdood het nie net redding vir ons gees ingehou nie, maar ook genesing vir ons liggaam.

Wanneer jy weer oor jou liggaam dink – goed of sleg – dink daaraan dat Jesus ook ‘n liggaam gehad het en ook ter wille van ons liggame gesterf het. Daarom moet jy goed daarna omsien en kan jy ook bid vir die genesing van jou liggaam.

Ons liggame is verder só belangrik vir God dat die Bybel dit die “tempel van die Heilige Gees” noem. Luister bietjie na 1 Kor. 6:19: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”

Dis ‘n groot en belangrike stelling wat Paulus in hierdie Skrifgedeelte maak – as gelowige is my liggaam die Heilige Gees se tempel! Dit spreek van heiligheid, gewydheid, goddelikheid.

Dis veral om hierdie rede dat die Bybel so onomwonde standpunt inneem teen seksuele losbandigheid. Luister net na ‘n paar van die stellings wat Paulus in hierdie verband in 1 Kor. 6 maak:

  • “Ons liggame is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie. Hulle is daar vir die Here, net soos die Here sorg dra vir ons liggame.” (v. 13)
  • Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie? Sal ’n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ’n prostituut verenig?” (v. 15)
  • “Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam.” (v. 18)

Die Bybelse feit dat my liggaam die tempel van die Heilige Gees is, het verreikende betekenis. Dit beteken, onder meer, dat alles wat ek met my liggaam doen, hoe ek dit behandel en wat ek inneem, vir God saak maak.

Ons het tradisioneel die kerkgebou met hierdie tempel verwar. Waarom sou sommiges dan dink dat dit aanvaarbaar is om te rook (om maar een voorbeeld te noem) – solank dit búíte die kerkgebou is. My liggaam is immers Sy tempel!

Gebed:

“Ek eer U dat my liggaam vir U belangrik is en dat U dit U tempel maak. Amen.”

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tiaan ·

Hoe moet ons verassing verstaan? Dit is tog ‘n heidense gebruik in die Bybel.

Maria ·

Dit waar my hartbreek ek as “ma” wat sien en hoor baie kinders so jong so hulle is wat op skool is al losbandig sien niks verkeerd daarmee nie EGO? So ek sien : “Elke een liggaam wie jy deurmekaar is dra jy saam res van jou lewe ….dink hoeveel ou ende?

Janine du Plessis ·

Verassing is onbybels en ongehoorsaamheid aan God. Die Woord sê tog duidelik dat jy van stof gemaak is en tot stof sal terugkeer. Mense wat deur God vervloek is, het bv. nie ‘n begrafnis gekry nie. Tatoes is ook sonde. ‘n Mens sit nie graffiti op God se tempel nie. Dit word gerugsteun deur ‘n teks uit Levitikus wat hierdie praktyk al eeue gelede verbied het.

Luister ·

Wanneer jy sterf, verlaat jou gees jou liggaam.
As die liggaam veras word; keer dit net gouer terug tot stof as wanneer dit begrawe word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.