Wins of welstand? Werkstres snoei BBP met 2,2%

depressie

Argieffoto: http://www.empowermagazine.com/

ʼn Appel hier, ʼn drafstappie daar en ʼn lekker kuiergeleentheid sal ook nie skade doen nie … Dit is van sleutelbelang vir werknemers om gesond en gelukkig te wees met hulself en hul omgewing ten einde produktief en positief in enige maatskappy te funksioneer. Die antwoord lê dus in welsynprogramme!

Meer as 40% van alle werkverwante siektes is weens werkverwante stres, en ernstige depressie, uitbranding en angs-aandoenings veroorsaak ’n inkomsteverlies van ’n geraamde R40,6 miljard, of 2,2% van Suid-Afrika se jaarlikse BBP, sê dr. Renata Schoeman, ’n direksielid van die Psychiatry Management Group (PsychMG).

Op Wêreld-welsyndag (10 Oktober) raai dr. Schoeman maatskappye aan om te besef watter uitwerking hul maatskappy se struktuur, werknemers se verwagting en bestuurstyl op die maatskappy se jaarlikse omset en algemene produktiwiteit het, asook op die kans dat werknemers gesondheidsprobleme kan ontwikkel wat hulle tydelik of permanent kan verhoed om die werkmag weer te betree.

“Maatskappye behoort voor in die ry te staan om moontlike stresfaktore by die werk te verlig of heeltemal uit te skakel. Hulle moet ’n gesonde opvoedingsomgewing met proaktiewe programme vir bewustheid oor welsynknelpunte instel, asook stresbestuuropleiding en toegang tot dienste wat mense aanmoedig om hulp te soek. Hulle moet mense identifiseer wat sorg nodig het, en hulle hulpbronne aanbied om seker te maak dat hulle behoorlike behandeling kry.”

Sy sê dat uitbranding, naamlik ’n toestand van emosionele en liggaamlike uitputting, ’n regstreekse gevolg van werksomstandighede en -toestande is.

“Uitbranding veroorsaak ook gevoelens van mislukking, matheid, swak prestasie en verminderde persoonlike uitvoering. Die toestand is die regstreekse gevolg van onduidelike taakverwagtinge, swak ooreenstemming met die werk, wanwerkende werkplekdinamika, gebrek aan beheer en ’n werklewe-wanbalans.

“Werknemers wat gevaar staan, maar nie behandel word nie, kan die volgende in die gesig staar: hospitaalbehandeling vir onder meer kardiovaskulêre en geestesgesondheidsafwykings, iskemiese hartsiekte, dwelm- en drankmisbruik, selfdood, angstigheid, depressie en slapeloosheid. Dit het ernstige gevolge vir ’n maatskappy se algehele omset en sukses, en is veral nadelig vir die werknemer se algemene welstand en gesonde gees.”

Dr. Schoeman sê werknemers is op hul beurt daarvoor verantwoordelik om vir ’n gesonde leefwyse te sorg. Dit sluit genoeg slaap en daaglikse oefening in, asook die omarming van lewenslange leer-ervarings, ’n gesonde eetplan en beperkte gebruik van alkohol, meer sosiale bedrywighede en ’n nadenkende ingesteldheid.

“Bewustheid van welsynprobleme in die werkplek sal sorg dat afwykings vroeg uitgeken en behandel word. Herhalings en langtermyn-komplikasies kan vermy word. Die inwerkingstelling van steunprogramme vir werknemers om lewensgehalte te verbeter, sal sorg dat die maatskappy langer bly bestaan. Dit sal die land se BBP-verliese verminder, en keer dat afwykings in permanente ongeskiktheid ontaard.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.