Woordskatte tussen die skrapnel

boere-anglo-boereoorlog-wikipedia

Boere by Spioenkop tydens die Anglo-boereoorlog. Foto: En.wikipedia.org

Deur Petronel Fourie

Oktober mag die mooiste, mooiste maand wees, soos C. Louis Leipoldt dig, maar dit is ook die maand waarin die bitterste stryd tussen Boer en Brit uitgebreek het. Vanjaar se Oktober herdenk 120 jaar nadat die stryd aangesê is, die skote begin klap het, en Suid-Afrikaners teen wil en dank vir volk en vaderland moes veg.

Dit was die Anglo-Boereoorlog.

Saam met die letsels wat die oorlog aan die Afrikaner se siel gelaat het, het die stryd ook vir ʼn paar unieke benamings en interessante gebruike gesorg. Verder bevat die lys van oorlogsterminologie talle pragtige woorde met interessante herkoms. In hierdie rubriek soek ons tussen die skrapnel vir dié oorlogskatte en hul oorsprong.

Die Anglo-Boereoorlog (ABO) het van Oktober 1899 tot Mei 1902 tussen die twee Boererepublieke en die Britse Ryk in Suid-Afrika gewoed. Dit word ook die Tweede Vryheidsoorlog genoem, of soms die Engelse Oorlog, die Driejarige Oorlog, of die Suid-Afrikaanse Oorlog.

Boeregeneraal Ben Viljoen het kort voor die oorlog in die Transvaalse Volksraad gesê: “Dit is tyd dat ons ons vertroue plaas in God en die Mauser.”

Dít het hulle gedoen. Met die uitbreek van die oorlog het die ZAR en die OVS gesamentlik oor sowat 100 000 gewere beskik, waarvan die helfte die Duitse Mausers en die res hoofsaaklik Martini-Henry-gewere was. Die Mausers was grendelgewere wat na die Duitse vervaardiger vernoem is, en die Martini-Henrys verouderde enkelskoot-agterlaaiergewere vernoem na die Oostenryker Friedrich von Martini, en die Skotse geweermaker Alexander Henry.

Bandelier is vir my so ʼn besondere woord. In oorlogstyd was dit ʼn noodsaaklike bykomstigheid, ʼn riem oor die skouer en bors waarin patrone gedra is. Dié woord is afgelei van die Franse bandoulière, wat “skouerriem” beteken, en oorspronklik van die Spaanse bandolera, ‘n afleiding van banda oftewel “serp”.

Die oorlog het met die tradisionele stellingskrygfase begin, toe die Boerekommando’s basies op een plek in laers en stellings gelê het, nes die Britte. Volgens die Britse historikus Sir Thomas Pakenham het die Boere in dié stadium ʼn geheime “wapen” gehad: die loopgraaf. Dit was danksy dié uitgrawings waarin die Boere teen vyandelike vuur beveilig is en ongesiens kon beweeg dat die veldslae van Magersfontein en Colenso vir die Boere so suksesvol was.

Die woord “loopgraaf” is ʼn lomp vertaling van die Duitse Laufgraben en behoort eintlik loopgracht te wees, met ander woorde ʼn droë grag waarin soldate kan loop om onopsigtelik by ‘n veilige vesting te kom.

Wanneer jy figuurlik in die laaste loopgraaf is, wend jy die laaste poging aan om die saak te red.

Die passiewe oorlogvoering was egter gou oneffektief en die Boere het besluit om die meer beweeglike guerrillataktiek te gebruik deur Britse kolonnes aan te val en vinnig weer pad te gee. Die laaste twee jaar van die oorlog het op dié manier plaasgevind. Die woord “guerrilla” is die Spaanse verkleinwoord van guerra, wat “oorlog” beteken.

Onder die Boere was daar volop benamings vir ʼn Britse soldaat. Hulle is kakies genoem, na aanleiding van die kleur van hul uniforms, en Rooinekke danksy die kleur van hul nekke nadat die Afrikason hulle bygekom het. Nog ʼn naam vir ʼn Britse soldaat is ʼn Tommie. Volgens oorlewering is dié benaming te danke aan die denkbeeldige naam op blanko vorms van Britse soldate by rekrutering, Tommy Atkins.

Selfs die offisiere is nie gespaar nie. Sir Theophilus Shepstone is die Duiwel se Slypsteen herdoop en Sir Redvers Buller het gou onder burgers as Rooiversbul bekendgestaan.

Die gewraakte Boereverraaiers het ook spoedig nuwe name gekry. ʼn Hanskakie was die benaming vir ‘n Afrikaner wat hom deur die Engelse teen sy eie mense laat gebruik het. Verraaiers en oorlopers is ook Joiners en Judasboere genoem. ʼn Judasboer is na die Bybelse Judas Iskariot vernoem en as verraaiers beskou omdat hy as nasionale verkenner vir die Engelse gaan werk en lokvalle vir getroue burgers gestel het.

ʼn Hensopper, of hendsopper, is van Engelse “hands up” afgelei. Dié term is minagtend of veroordelend toegepas op ‘n burger wat hom vrywilliglik aan die Engelse oorgegee het.

Met lojale burgers is kommando’s gevorm om teen die Britte te veg. Op kommando moes die krygers brandwag staan en alarm maak as gevaar dreig. As hulle onraad vermoed het, het hulle “Werda?” geroep – ʼn uitroep aan iemand om homself te identifiseer. Dié woord kom uit die Hoogduits werda, gevorm uit die vraag “Wer geht da?” oftewel “Wie is daar?”.

Seuns en jong mans van tot ongeveer twintig jaar oud is op kommando penkoppe genoem, ʼn gepaste bynaam na aanleiding van dieselfde benaming vir ʼn bulkalf wat horings begin kry.

Die boerekrygers het nie standaarduniform gehad nie en die plaasklere waarmee hulle gaan veg het, was gou vodde. Daaruit het die gebruik ontwikkel om Britse kolonnes in die veld te oorrompel en “uit te skud” deur die klere wat die krygsgevangenes gedra het, vir hulself te neem en dikwels hul vodde in ruil daarvoor gegee het. Sommige burgers wie se Engels nie waffers was nie, het ʼn krygsgevangene bloot beveel: “Out boots, out trousers, out jacket!”.

Goeie ou boeresport was dwarsdeur die oorlog ʼn gewilde tydverdryf op kommando, veral op tradisionele feesdae soos Nuwejaarsdag, Paul Kruger se verjaarsdag op 10 Oktober en Majubadag op 27 Februarie. Dan is daar, onder meer, tougetrek en sakresies gehou. Wonderlik dat daar een woord is wat dié pret in ledige tye saamvat!

Die Boereoorlog het ʼn handjievol bittereinders opgelewer. Dit is die stryders wat aan die einde van die oorlog geweier het om oor te gee en gekant was teen die vredesvoorwaardes wat deur die Britte gestel is. Uit daardie konteks gebore is ʼn bittereinder vandag iemand wat tot die einde toe volhard uit plig en getrouheid aan ‘n ideaal. Hy is ʼn kanniedood.

In die inleiding van sy grootse werk oor die Boereoorlog skryf Pakenham dat die oorlog wat die Boere op 11 Oktober 1899 verklaar het, die Engelse ʼn onvergeetlike les geleer het. Die Britse publiek het verwag dat dit teen Kersfees verby sou wees, maar dit was twee jaar en nege maande later die langste, duurste (teen meer as £200 miljoen!), bloedigste (met minstens 22 000 Engelse, 25 000 Boere en 12 000 swart verlore lewens) en die vernederendste oorlog waaraan Brittanje in die eeu tussen 1815 en 1914 deelgeneem het.

Die Boere se vaderlandsliefde het daartoe gelei dat die stryd nie teen Kersfees gewonne was nie, maar dat hulle bereid was om eie belang op te offer vir die welsyn van hul volk. Die woord “vaderlandsliefde” lê dalk lig op die tong, maar weeg swaar op die hart.

ʼn Ewe gewigtige oorlogswoord is “kryg”. Hoewel die wapen vir meer as ʼn eeu reeds neergelê is, moet Afrikaners steeds die kryg voer – volhard in jou werk, lewe ordentlik, behartig jou sake goed.

Die monument wat by die Slag van Bergendal opgerig is, som die Anglo-Boereoorlog raak op: “History will tell of a British victory without glory and of a Boer defeat without shame.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hermi Baartman ·

Tydens die bosoorlog het die troepe die gemengde groente wat deel van die rantsoen was, Scrapnel genoem
T Packenham se boek het vir my, wat geen benul gehad het van die geskiedenis, alles oopgevlek.
Ek het ou Suidwes geskiedenis geleer

Charles ·

Moet asseblief nie vergeet van G.D. (Gert Daniël) Scholtz se verbluffende meesterstuk, “Die Tweede Vryheidsoorlog” nie. Dis selfs nog beter as Pakenham se boek!

Stephan de S ·

Dankie vir hd kosbare artikel geskryf deur n waarderende persoon. Ek het nooit geweet wat die oorsprong vd woord “penkop” was nie. Is dit nie n uitstekende benaming nie? Dankie MM vir hd tipe lekkerlees artikels en die kultuuroordrag wat daardeur plaasvind.

Paul Grobbelaar ·

Die getal van 25000 Boereverliese is verkeerd
Aan vroue en kinders alleen ongeveer 34000. Wat manne in die veld betref, kan dit ook nie 25000 wees nie, hoogstens 8000 .

Hendrik ·

Pragtige artikel. “History will tell of a British victory without glory and a Boer defeat without shame.” Treffend!

Kobus ·

Baie dankie vir hierdie lekkerlees artikel. Dit is insiggewend en maak mens trots om Afrikaner te wees wat uit die moeilikheid opstaan en aangaan.
Ek het onlangs die fliek ‘Modder en bloed’ gekyk. Ook baie interessant hoedat die manne die swaarkry oorleef het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.