Soorte resepte:

Skep jou eie proe-ervaring met rooibos en sjokolade

(Foto: MyaTH/Unsplash)

ʼn Koppie rooibostee met ʼn blokkie van jou gunstelingsjokolade is pure kulinêre genot.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARC), sê rooibostee en sjokolade maak uitstekende Paasfeesmetgeselle.

“Beide rooibos en sjokolade word geassosieer met gemak, besinning en koestering, wat hand aan hand met die gees van Paasfees loop. Om ʼn koppie rooibos en sjokolade saam te geniet kan hierdie sentimente versterk.”

Skep jou eie proe-ervaring met ʼn kombinasie van verskillende rooibostee en sjokolade:

Begin só:

  1. Verseker dat die geurprofiele goed gebalanseerd is. Mik daarna om ʼn pasmaat te vind wat beide die geur van die sjokolade verbeter sowel as die rooibos-versnit wat jy gekies het.
  2. Kies goeie gehalte sjokolade met wisselende hoeveelhede kakao, wat ʼn verskeidenheid van wit-, melk- en donkersjokolade insluit.
  3. Kies rooibos-versnitte wat beide komplementerende en kontrasterende geure het om die geur en aroma van die sjokolade en rooibos te verhoog.

Melksjokolade en rooibos

Melksjokolade is die veelsydigste saam met rooibos. Die romerige, melkerige konsekwentheid kan help om die geur van verskeie versnitte te balanseer. Gewone rooibos, rooibos-kaneel, rooibosbessie en rooibos-vanielje pas almal perfek saam met melksjokolade.

Die rokerige ondertone van rooibos komplementeer die neutsmaak van melksjokolade, terwyl sy gladde, soet karamelnote natuurlik die geure van die sjokolade balanseer. Hierdie paring werk ook goed saam met sponskoeke, vla en ander soet terte.

(Foto: Verskaf)

Donkersjokolade en rooibos

Rooibos se vrugtige, blom- en neutagtige aromas pas goed by die bitter smaak van donkersjokolade.

Eksperimenteer met rooibos-ment, rooibos-chai, rooibosbessie, rooibos-lemoen en selfs rooibos-gemmer. Die sterk geure en ryk aroma van hierdie rooibos-versnitte maak hulle ideaal met enige sjokolade-paring, soos sjokolademousse, poeding of sjokoladefondant.

(Foto: Verskaf)

Witsjokolade en rooibos

Gewone rooibos en vanielje-rooibos pas besonder goed saam met witsjokolade aangesien die sitrusagtige ondertoon deur die rykheid van witsjokolade sny. Sy kruidagtige geur is hemels wanneer dit in die romerige witsjokolade gemeng word, dink maar aan truffels, praliene, fudge, mousse en meringues. Die aardse smaak van rooibos-ment maak witsjokolade verfrissend.

(Foto: Verskaf)

ʼn Paar proe wenke

  1. Neem die rooibostee sonder enige melk of versoeters om te verhoed dat die sjokolade se geure deur ʼn ekstra laag romerigheid en suiker belemmer word.
  2. Begin met ʼn klein happie sjokolade en laat dit stadig in jou mond smelt.
  3. Neem ʼn sluk rooibostee agter in jou mond sodat dit by jou smaakknoppies uitkom. Slurp eerder as om te teug, want eersgenoemde sal lug in jou mond intrek en verhoed dat meer intense geure en aromas vrygestel kan word.
  4. Neem dan nog ʼn klein happie sjokolade, en jy sal sien hoe rooibos die geur en aroma van die vorige happie sjokolade verander in vergelyking met die eerste happie.
  5. As jy wil, kan jy jou verhemelte met ʼn slukkie water skoonmaak en óf die proses omkeer óf na ʼn ander sjokolade-en-tee-kombinasie oorskuif.

(Foto: Verskaf)

Resep: Rooibos-en-sjokolade-latte

Hier is ʼn rooibos-en-sjokolade-latte-resep wat perfek is vir jou soettand dié Paasnaweek.

Bestanddele

  • 6 g rooibos-latte-mengsel
  • 30 ml warm water
  • 1 of 2 sjokolade-eiers (afhangende van grootte)
  • 220 ml vars gestoomde melk of suiwelalternatief
  • sjokoladesprinkels (opsioneel)

Metode (per koppie)

  1. Voeg die rooibos-latte-mengsel by in ʼn 250 ml-koppie.
  2. Gooi warm water in koppie.
  3. Smelt die sjokolade-eiers en gooi in die koppie. Meng dit goed.
  4. Voeg die vars gestoomde melk of suiwelalternatief by.
  5. Strooi sjokoladesprinkels oor as Paasfeesversiering en geniet!

 

Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.