Soorte resepte:

Skink ʼn glasie sjokolademelk na ʼn oefensessie

Sjokolademelk (Foto: Steri Stumpie)

Om jou spiere toe te laat om ordentlik te herstel is amper net so belangrik as om oefeninge te doen. En jy hoef nie spesiale, duur produkte te koop om te verseker dat jou spiere goed herstel nie – gegeurde melk en jogurt doen die werk perfek!

Volgens Rediscover Dairy, ʼn verbruikeropvoedingprojek van Milk SA, het suiwelprodukte ʼn unieke nutriënt-profiel wat dit ʼn goeie sporthersteldrankie maak, veral gegeurde melk en jogurt.

Dit bevat koolhidrate wat energie verskaf en help teen moegheid. Die proteïne in suiwelprodukte help dat spiere vinniger herstel, en dit bevat ook nutriënte soos kalium, magnesium en natrium wat elektroliete vervang wat deur sweet vrygelaat word.

Verder help die kalsium in suiwelprodukte ook om sterk bene in stand te hou en die feit dat jy ʼn suiwelproduk kan drink, help met rehidrasie na oefeninge.

“Dit is die komposisie van gegeurde melk wat koolhidrate en proteïne in ʼn ideale verhouding het wat maak dat dit ʼn goeie gehalte sporthersteldrankie is,” sê sportdieetkundige Nicki de Villiers.

“Daar is ook ʼn wye verskeidenheid van suiwelprodukte om van te kies, insluitend vetvrye, laevet- en drinkbare jogurt. Dit is die beskikbaarheid van hoë gehalte proteïne (soos wei en kaseïen) wat verseker dat die liggaam optimaal kan herstel.”

De Villiers sê dit is belangrik om jou tydsberekening reg te kry wanneer dit kom by sporthersteldrankies. Sy stel voor jy drink dit binne 30 minute na jou oefensessie of ʼn sportgeleentheid.

“Deur ʼn glas gegeurde melk of drinkbare jogurt te drink, sal verseker dat jy genoegsaam herlaai, herstel en rehidreer.”

Indien jy nie aandag gee aan die herstelfase van sport en oefeninge nie, sal jou kans om ʼn besering op te doen verhoog en jy sal swakker presteer in jou sport, en jou spiere kan verswak . Dit is hoekom dit belangrik is om voor, gedurende en na oefeninge jou energievlakke te handhaaf om te voorkom dat spiermassa verlore gaan.

Gegeurde melk en drinkbare jogurt is ook gepas vir jong kinders wat ʼn aktiewe leefstyl het. Dit is ook bekostigbaar en jy kan self jou eie gegeurde melk by die huis maak vir ʼn vinnige oplossing.

Meng bloot melk met ʼn kombinasie van vanielje, kakao, heuning en vrugte vir ʼn maklike en vinnige drankie na ʼn taai oefensessie.

Vir meer inligting oor hierdie onderwerp besoek Rediscover Dairy se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Eish ek is nou heeltemal deurmekaar. Daar is slimmes wat beweer melk veroorsaak melksuur. Die berig noem dat dit na die tyd geneem kan word. Daar is egter ook niks met ‘n Duitse Hops Bruisdrankie mee verkeerd nie. Daar is net een iets beter as ‘n yskoue moutsappie, en dit is nog een.

Stof ·

Baie dankie vir die gemoedsrus. Hierdie gegeurde bederfie is een van my swakhede. Nou kan ek my gewete vra om op te hou om my te pla.
Oeps, nou het ek my achillishil in die publiek openbaar gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.