Soorte resepte:

Resep: Grenadellakoek met grenadellaversiersel

Grenadellakoek met grenadellaversiersel. (Foto: Lapa Uitgewers)

Bederf jou familie dié Kerstyd met hierdie heerlike grenadellakoek.

Lewer 1 groot koek.

Bestanddele

Koek

  • 4 ekstragroot eiers, geskei
  • 250 ml strooisuiker
  • 125 ml olie
  • 125 ml warm water
  • 220 g (2 blikkies) grenadellamoes
  • 2,5 ml grenadellageursel
  • 560 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • knippie sout

Versiersel

  • 500 g (1 klein pakkie) versiersuiker, gesif
  • 125 g (½ blok) sagte botter
  • ongeveer 60 ml warm water
  • 55 g (½ blikkie) grenadellamoes
  • 5 ml grenadellageursel

Bolaag

  • 55 g (½ blikkie) grenadellamoes
  • 5 ml strooisuiker
  • 2,5 ml mielieblom
  • 5 ml water

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Koek: Klits die eiergele en strooisuiker tot liggeel.
  3. Meng die olie, water, grenadellamoes en -geursel bymekaar. Voeg by die eiergele en klits goed saam.
  4. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Voeg by die eiergeelmengsel en roer tot goed gemeng.
  5. Klits die eierwitte tot styf en vou by die beslag in.
  6. Voer twee koekpanne van 22 cm-deursnee met bakpapier uit en verdeel die beslag so gelyk moontlik tussen die koekpanne.
  7. Bak die koek vir 25-30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  8. Keer die koeke uit op ’n afkoelrakkie, laat eenkant tot heeltemal afgekoel en trek dan die bakpapier af.
  9. Versiersel: Klits die versiersuiker, botter, water, grenadellamoes en -geursel tot lig en romerig.
  10. Smeer die helfte van die versiersel op die een koek, plaas die tweede koek bo-op en smeer die orige versiersel op.
  11. Bolaag: Verhit die grenadellamoes en strooisuiker in die mikrogolf vir 1 minuut.
  12. Maak die mielieblom en water tot pasta aan en roer by die warm grenadellamengsel. Mikrogolf die mengsel tot verdik.
  13. Laat eers bietjie afkoel en skep dan bo-op die koek.

Bron: Koeke
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Llady ·

By enige winkel wat bak voorraad verkoop. Hier by ons in Centurion het ek by SA Baking Supplies gekry.

Llady ·

Ek het hierdie koek al verskeie kere gebak. Met die aanmaak van die versiersel, los die water vir eers uit. Die geursel en grenadellamoes verskaf genoeg vloeistof om die versiersuiker mee aan te maak. Sou die versiersuikermengsel nog te droog wees, voeg die water dan bietjie vir bietjie by.

Die eerste keer wat ek hierdie koek gebak het, het ek die water aan die begin saam met al die ander bestanddele bygegooi – die versiersuikermengsel het gevolglik geskif/uitgeskei. Ek kon niks doen om dit te beredder nie.

Ek maak nie die bolaag nie. Wanneer mens die grenadellamoes en strooisuiker in die mikrogolfoond warm maak, gee dit ‘n baie snaakse reuk af. So ek los daardie stap maar eerder uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.