Soorte resepte:

Resep: Kaas-en-groenvy-tert

Kaas-en-groenvy-tert (Foto: Lapa-uitgewers)

Is daar dan ʼn beter kombinasie as roomkaas en vye?
Lewer 12 porsies

Bestanddele

KORS

  • 100 g (⅕ blok botter)
  • 312 ml (1 ¼ k) koekmeel
  • knypie sout
  • 125 g (½ bakkie) laevetroomkaas

VULSEL

  • 45 ml (3 e) botter
  • 125 ml (½ k) strooisuiker
  • 3 ekstragroot eiers, geskei
  • 250 g (1 bakkie) laevetroomkaas
  • 250 (1 k) gouda, gerasper
  • 125 ml (½ k) dik room
  • 60 ml (4 e) bruismeel
  • 10-12 groenvye, gehalveer

Metode

Stel oond op 180 °C.

KORS

  1. Vryf botter by koekmeel in tot dit soos broodkrummels lyk.
  2. Voeg sout en roomkaas by en meng tot sagte deeg vorm. Voeg nog bietjie meel by as deeg te sag is.
  3. Knie deeg op meelbestrooide oppervlak tot deurgewerk.
  4. Plaas deeg in plastieksakkie en verkoel in yskas vir 1 uur.
  5. Voer oondvaste tertbord met 26 cm-deursnee met deeg.
  6. Prik die bodem van die tertkors. Bak vir 15 minute blind.
  7. Verwyder boontjies uit bakpapier en bak tertkors nog 5 minute.
  8. Verwyder uit oond en hou eenkant soos benodig.

VULSEL

  1. Room botter en strooisuiker tot liggeel. Klits eiergele by.
  2. Meng roomkaas en kaas by bottermengsel.
  3. Klits room styf en roer by kaasmengsel in.
  4. Sif bruismeel bo-oor kaasmengsel en roer by.
  5. Klits eierwitte tot stywepuntstadium en vou by kaasmengsel in.
  6. Skep die vulsel in tertkors en plaas vye met gesnyde kant na bo bo-op.
  7. Bak vir 40 minute of tot gestol en goudbruin bo-op.

Wenk: Sif versiersuiker bo-oor die tert vir ʼn mooi afronding.

Bron: 50 beste gebak uit Vrouekeur deur Marlo Carstens

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eend Bessinger ·

Yum! Die vye kan met ander vrugte vervang word as jy nie van vye hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.