Soorte resepte:

Resep: Weetbix-en-semel-beskuit

Weetbix-en-semel-beskuit (Foto: Lapa Uitgewers)

Smul elke oggend aan hierdie beskuit met ʼn heerlike koppie boeretroos.

Lewer ongeveer 90 stukke

Bestanddele

  • 1 kg (7 k) volkoringmeel (Nutty Wheat)
  • 500 ml (2 k) semels
  • 250 ml (1 k) koekmeel
  • 60 ml (4 e) bakpoeier
  • 7,5 ml (1½ t) koeksoda
  • 5 ml (1 t) sout
  • 8 Weetbix-stafies
  • 250 ml (1 k) sonneblomsaad
  • 125 ml (½ k) sesamsaad
  • 60 ml (4 e) lynsaad (linseed/flaxseed)
  • 500 g (1 blok) botter
  • 625 ml (2 ½ k) suiker
  • 750 (3 k) karringmelk
  • 10 ml (2 t) bruinasyn
  • 3 ekstragroot eiers

Metode

  1. Stel die oond op 180 °C en smeer drie broodpanne van 27 cm x 10 cm met botter. Meet die volkoringmeel, semels, koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout in ʼn mengbak af. Roer dit deur tot gemeng.
  2. Breek die Weetbix in klein stukkies en roer dit saam met die sonneblom-, sesam- en lynsaad by die meelmengsel.
  3. Smelt die botter saam met die suiker in ʼn kastrol. Roer af en toe. Die suiker sal nie heeltemal opgelos wees nie. Verwyder dit van die hitte en laat effens afkoel.
  4. Roer die karringmelk en bruinasyn by. Klits die eiers goed en roer dit ook by die bottermengsel.
  5. Voeg die bottermengsel by die meelmengsel en meng goed.
  6. Verdeel die deeg tussen die panne en bak dit ʼn uur lank of tot ʼn toetspen skoon uitkom.
  7. Laat die beskuit eers goed afkoel in die panne en keer dit dan op afkoelrakke uit.
  8. Sny die beskuit in stukke en rangskik dit op bakplate.
  9. Droog dit ongeveer 5 uur lank teen 70 °C uit.
  10. Bêre dit in lugdigte houers.

Bron: Beste uit Vrouekeur

Uitgewer: Lapa

Maroela Media spog nou met ons eie resepteboek, Huis-huis. Koop dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.