Soorte resepte:

Knysna se oesterfees is 40 jaar jonk

Die verskil tussen gekweekte oesters en die ware Jakob, wat plaaslik uitgehaal word, is duidelik op my bord en met hierdie uitsig, natuurlik nog smaakliker. (Foto: Clifford Roberts)

Die Knysna-oesterfees vier vanjaar sy 40ste verjaardag en word van 30 Junie tot 9 Julie op die dorp gehou. ʼn Groepie gaste is onlangs genooi om ʼn voorsmakie te kry van wat op feesgangers wag.

Dié fees word in die wintervakansie gehou, sodat jy heeldag kan kuier sonder om bekommerd te wees oor skooltye, sportsmiddae of ander verpligtinge, skryf Maryke Roberts.

Die amptelike bekendstellingsfunksie is by Belvidere Manor gehou, waar die burgemeester, raadslid  Aubrey Tsengwa, sy opgewondenheid oor die 40ste fees uitgespreek en gesê het dat die fees inklusief en die program divers is.

Dis heel gepas dat die bekendstelling in die gastehuis se historiese The Bell Tavern gehou word en ons aan The Red Bridge Brewery Co. se Golden Ale teug. Dié brouery is nog op die agenda. Teen die plafon hang ʼn soliede houtklok en dié taverne is glo Knysna se kleinste kroegie.

Die fees-organiseerders het regtig aan alles gedink: jy kan jag vir onderwaterskatte; jou eie eetstel verf; op ʼn kunswandeling gaan; bykans enige sportsoort onder die son beoefen; pilates doen; by die mark rondstap of na musikante luister. En dis net die begin van die tien-dag-lange lekkerte, sien ek op die program.

Die slagspreuk: “Have a whale of a time at this year’s Knysna Oyster Festival,” kan nie meer gepas wees nie, want wie weet, dalk is daar walvisse wat in die oseaan baljaar.

Een van die hoogtepunte is natuurlik die Knysna-fietswedren, met registrasie op 30 Junie by die Knysna Hoërskool-sportgronde. Dit is ook die hart van die feestelikhede vir die hele fees, met stalletjies en musiek en die kans om lekker te kuier.

Een van die fees se hoogtepunte is die fietswedren wat nou al baie bekend onder toegewyde fietsryers is. (Foto: Clifford Roberts)

Die fietswedren strek oor 45 km en 85 km en verg fikse en ervare fietsryers wat deur die Knysnawoude ry. Vir diegene wat nie in die koue hul liggame tot die uiterste wil beproef nie, is daar makliker fietstrapopsies met die Knysna Toyota Fun Enduro met drie of vyf vlakke wat oor 42 km strek en uit drie of vyf vlakke bestaan.

Elke sportaktiwiteit is of in die woud of op die strande en vertoon die natuurskoon op sy beste. Vir elke strawwe wedloop is daar ʼn pretdraf of -stap vir dié wat meer sosiaal wil wees, maar steeds aktief wil deelneem.

Die Houtkapper-pretdraf is ʼn buitengewone avontuur deur die betowerende woude wat die bekende werke van wyle skrywer, Daleen Matthee, geïnspireer het. Die pretdraf op 9 Julie bied drie roetes van verskillende lengtes en moeilikheidsgraad. Drawwers sal die bekende bakens uit haar boek onderweg kan verken, waaronder Krisjan-se-nek, die Daleen Matthee-gedenkteken, en die legendariese Daleen Matthee Groot Boom – ʼn ontsagwekkende 880 jaar oue geelhoutboom.

Daar is ʼn gholfkampioenskap by die luukse Knysna-gholfklub, wat gereken word as een van die voorste sportfasiliteite op die Tuinroete. Verder is daar ook rolbalwedstryde en selfs die kans om die Knysnameer met jou skuba-toerusting skoon te maak.

En soos die fees se naam tereg verklap: dit gaan alles hier om oesters. By die Dry Dock Restaurant & Terrace in die Knysna Waterfront, vertel Elizabeth Virtue, een van die eienaars van vier restaurante daar, ons meer van oesters wat natuurlik in die oseaan voorkom en dié wat gekweek word.

Seekos by die Knysna Waterfront waar jy uitkyk oor die water, smaak sommer net lekkerder en varser. Ons lekker seekospan by Dry Dock. (Foto: Clifford Roberts)

“Knysna en oesters is sinoniem – ek meen, ons het ʼn hele fees daarvoor – maar tog weet min mense dat geen oesters meer hier gekweek word nie. Die (Crassostrea gigas) wat voorheen hier gekweek is, is heerlik, maar hulle was nooit regtig van Knysna nie – eerder van die see van Japan. Hulle is ook nie so lekker soos die inheemse rots-oester (Crassostrea margaritacea) nie. Nie net is hulle tekstuur en smaak minder ‘see’ nie, maar daar is ook baie minder ‘vleis’ tot skulp.

“Dis soos om ʼn Karoolam met wildsvleis te vergelyk.

“Die gekweekte oesters is aanvanklik in die Knysnameer gehou, maar die toestande daar was nooit regtig gunstig nie, omdat daar nie genoeg voedingstowwe in die water is soos in die Weskus waar hulle floreer nie. Die getye bring ook gereeld vars water in die meer in, wat dodelik is vir oesters.”

“Dis hoogtyd dat die gekweekte oester-beeld van Knysna gebêre word waar dit hoort: in die verlede.”

Op ons borde lê die twee sy aan sy. Die verskil in grootte is natuurlik duidelik, maar daardie verhouding tussen “vleis” en skulp ook. Elizabeth sê oesters word van die rotse verwyder deur plaaslike mense en hulle mag soveel uithaal as wat hulle kan dra. Maar hoeveel is dit? “Ons moet mooi kyk na hierdie natuurlike hulpbron van ons, want dis al meer as 120 000 jaar deel van ons dieet,” het sy vertel.

Die restaurant se boonste vloer is pas opgeknap en om daar te sit met uitsigte oor die seiljagte, die seevoëls en die vlaggies wat in die windjie wapper, is ware vryheid. Voeg daarby seekos in ʼn groot pan, vlesige, groot oesters en yskoue vonkelwyn en die lewe kan beswaarlik beter.

Ongeag waar die oesters vandaan kom, my tafelgenote maal peper, gooi brandrissiesous en druk suurlemoenskyfies vir die eerste span. ʼn Mens sou sweer ons neem deel aan een of ander oester-wedloop! Maar ek sal nooit weer so roekeloos ʼn hele bord vol plaaslike oesters bestel nie, maar eerder die paar op my tong laat talm.

Een van die ander lekker ervaringe wat deel van die fees vorm, is proesessies en aandete by The Spice & Tea House met Sanchia Hadlow, ʼn sjef en tee-sommelier.

Daar is tydens die Oesterfees daagliks, tussen 1 en 9 Julie, ʼn uurlange teeproe om 10:00 en 15:00 en speseryproe om 12:00, wat beide tee en vingerhappies insluit. Vir ons besoek vertel sy dat sy al sewe jaar die tee-en-spesery-winkel besit en dat baie van die boere wat dié tee of speserye kweek, direk aan haar verskaf. Sy weet waar alles vandaan kom en baie daarvan is organies. Geen geur- of preserveermiddels word bygevoeg nie en sy maak van gegeurde teeroomys tot Chai-tee wat jou tone laat omkrul van lekkerte.

Die Knysna-oesterfees se amptelike programbekendstelling is pas gedoen en by die geleentheid was raadslede en toerismeverteenwoordigers. Agter staan die onderburgemeester, Alberto Marbi en burgemeester Aubrey Tsengwa. Voor staan toerisme-beampte Thozeka Sikali, raadslid Beauty Charlie en Lungiswa Goy. (Foto: Clifford Roberts)

Ons begin met Rooibostee Gluhwein met ʼn skyfie lemoen.

Haar kennis is breed en insiggewend en sy bied konteks met elke bakkie varsgemaalde speserye wat sy ons laat ruik.

Sanchia vertel dat tee baie tyd- en temperatuur-gevoelig is en gee die volgende riglyne vir die perfekte koppie tee: groentee moet vir 3 min teen 80 grade trek; swarttee vir 5 min teen 100 grade en kruietee vir 5-7 min teen 100 grade. “Tee is soos wyn. Dis net so kompleks.”

Ons proe die twee inheemse tees, rooibos en heuningbos, wat van Piketberg tot Port Elizabeth voorkom en nêrens anders in die wêreld nie. Rooibos aard op sy beste in die Sederberge, al word dit elders verbou. Die naam is beskerm en mag nie elders in die wêreld gebruik word nie. Sy verduidelik rooibos is meer plekspesifiek. “Heuningbos is ʼn bietjie soos die plaasniggie en ons moet dié beeld verander. Dit het uitstekende gesondheidsvoordele en is geweldig veelsydig.”

Sy sê: “Gebruik tee in kos. Nie in plek van ʼn ander bestanddeel nie, maar as die ster van die gereg. Jy is wat jy eet. Laat dit goed wees.”

Ons smul aan Chinese bobotie-rolletjies met kruisementblatjang, voor ons kardomynroomys geniet.

Die happies en lekker tee, het my skoon honger, maar eers ʼn bierproe by die mikrobrouery, Red Bridge Brewing Co., wat sy naam te danke het aan die mooi rooi brug oor die Knysnarivier. Die brug is in 1923 geopen maar lankal vir verkeer gesluit. Nou is dit gewild as drafplek, fietsryplek of piekniekplek teen sononder met ʼn paar Red Bridge-biere, vertel die brouery-eienaars, Karel en Chantal Bruwer ons. “En in die hitte van die somer kan jy van die brug af in die rivier spring vir ʼn heerlike koele lafenis van ʼn ander aard!”

Al die toerusting is selfgemaak of van Suid-Afrikaanse afkoms, anders as ander brouerye wat toerusting invoer.

Terwyl ons een na die ander biere proe, hoor ons meer oor die hele proses en kry die kans om ons hande deur die mout te trek, waarvan bier gebrou word.

Ons skuif aan na Thesen-eiland vir middagete en ek kan sien hoekom dié eiland waar die Turbine Hotel is, ʼn lekker plek is om ure tydens die Oesterfees te verwyl.

Met die winter op sy beste in die Suid-Kaap is iets soos ontspanne NIA-klasse op 1, 3 en 6 Julie by die skool se sportgronde dalk net die regte medisyne en as jy inkopieterapie benodig, is die opskiet-boetiek by die Turbine Hotel op Thesen-eiland net die plek vir jou.

Vir die boekwurms is die bekendstelling van Fikile Hlatshwayo se boek, Born to travel, met ʼn glas vonkelwyn en oesters ingesluit, beslis iets vir die feesdagboek.

Daar is ook ʼn padwedloop oor 32 km, 40 km, 48 km en 52 km op 2 Julie van 07:00 – 12:00; kanowedvaart om 08:00 by die Knysna-seiljagklub.

Knysna is die tuiste van vele kunstenaars, wat in bykans elke medium werk. Die Knysna-kunsstap is net die lekkerste manier om werke van plaaslike en internasionale kunstenaars in ʼn ontspanne manier te ervaar.

As wyndrink, nuwe vriende maak en kuns meer jou tipe ontspanning is, verken die program vir die teug-en-verf-geleenthede in Queenstraat; geniet lekker kos-en-wyn-pasmaats saam met die bekende Stellenbosh-wynlandgoed, Waterford, by die Turbine Hotel; gaan draf die 5 km-pretdraf by Pezula met wynstoppe onderweg; doen die kos-en-wyn-pasmaats met ses wyne van De Krans op Calitzdorp by die Siruis Lodge, Simola; maak jou eie leerdagboek; waag jou hand aan pottebakkery of maak jou eie droomvanger; of skryf in vir die Amazing Race, Knysna-styl.

Die fees bied vele aktiwiteite met die hele gesin in gedagte en daarom kan jy teen sononder saam met jou kinders of kleinkinders gaan snorkel; bedags die rotspoele saam met eregidse gaan verken; of meer oor die woude en mere leer.

Vir meer lekker doengoed op Knysna, lees Maryke se artikel oor Knysna se Thesen-eiland op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JvR ·

Ek wonder altyd wie het eerste na n oester gekyk en gedink, die stukkie snot sal lekker wees saam met sout en suurlemoen sap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.