Soorte resepte:

Kyk: ‘Proe gou hier!’ saam met Liam Bosman

Liam Bosman, Leonie Bezuidenhout, aanbieder van ‘Proe gou hier!’ en Eugene Lottering van Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die akteur en sanger Liam Bosman van Diepe Waters-faam is die derde gas om in die Maroela Media-kombuis te kom kuier vir ons eie en unieke kookprogram, Proe gou hier!.

Proe gou hier! is ʼn informele kookprogram waar Afrikaanse bekendes, legendes en invloedrykes ʼn resep wat hulle na aan die hart lê, kom maak.

In dié episode maak Liam ʼn geurige hoenderkerrie en gesels oor sy rol as die jong swemmer Johan op kykNET se Diepe waters.

Hoewel hy onlangs dié program gegroet het, het die rol van Johan die jong akteur se loopbaan die afgelope twee jaar ʼn behoorlike hupstoot gegee – iets wat hy onlangs aan Maroela Media gesê het hy nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.

Grapjas Liam is ‘deur die blare’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Benewens sy werk op die skerm, vertel hy ook meer oor sy ontluikende musiekloopbaan en sy eerste enkelsnit, “Brief vir jou”, wat einde 2023 bekendgestel is.

Eugene Lottering, projekkoördineerder by Maroela Media, vertel ook meer oor ons splinternuwe kookboek, Huis-huis, wat nou in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, te koop is.

Volle episodes van dié reeks is op AfriForumTV te sien, terwyl gaste se resepte en ʼn korter episode met die hoogtepunte hier op Maroela Media beskikbaar is.

Waarvoor wag jy, kom proe gou hier!

Liam Bosman se geurige hoenderkerrie

Bestanddele:

  • 1 ui
  • 6 groot tamaties
  • 4 groot aartappels
  • 800 g hoenderborsies – sonder been
  • ʼn titsel olyfolie
  • 3 lourierblare
  • 3 kaneelstafies
  • 2 steranys
  • 1½ eetlepel knoffel- en gemmersmeer
  • 1 eetlepel borrie
  • 4 opgehoopte eetlepels Kashmiri masala
  • 4 opgehoopte eetlepels brandrissiepoeier
  • 1 teelepel Garam masala

Metode

  1. Kap ui fyn en hou eenkant.
  2. Rasper die tamaties fyn, gooi oorblywende vel weg en hou eenkant.
  3. Skil aartappels af en sny in 6 stukke per aartappel.
  4. Sny hoender in kleiner stukke, sowat 5 stukke per bors.
  5. Verhit ʼn groot kookpot op lae hitte en gooi olyfolie om die bodem van die pot te bedek.
  6. Voeg uie saam met die lourierblare, kaneel en steranys in die pot en roer totdat die ui ligbruin is.
  7. Voeg dan die tamaties, asook die knoffel- en gemmersmeer by en roer vir 30 sekondes.
  8. Voeg speserye by en roer deeglik vir minstens twee minute.
  9. Maak deksel toe en laat mengsel prut op lae hitte vir ongeveer 30 minute.
  10. Voeg gesnyde hoenderborsies by en laat mengsel weer prut totdat die hoender gaar is.
  11. Haal pot van die stoof af en laat dit prut vir tien minute.
  12. Geniet saam met ʼn snytjie naanbrood.

Liam se kerrie was selfs ‘n treffer onder die produksiespan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

  • Kyk hier na die volledige episode op AfriForumTV.
  • Kyk hier na die korter episode:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.