Soorte resepte:

Kyk: ‘Proe gou hier!’ saam met Ruan Josh

Ruan Josh, Leonie Bezuidenhout, aanbieder van ‘Proe gou hier!’ en Anja van der Merwe, joernalis. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Ruan Josh is die tweede gas om in die Maroela Media-kombuis te kom kuier vir ons eie en unieke kookprogram, Proe gou hier!

Proe gou hier! is ʼn informele kookprogram waar Afrikaanse bekendes, legendes en invloedrykes ʼn resep wat hulle na aan die hart lê, kom maak.

Ruan, ʼn gewilde Afrikaanse musikant in eie reg, is ook die seun van Juanita du Plessis en ouboet vir sangeres Franja du Plessis.

As hy nie die land plat toer nie, is dié blou-oog sanger graag in die kombuis waar hy heerlike disse vir geliefdes optower.

In dié episode maak hy ʼn omgedraaide appeltert, wat blykbaar ʼn gunsteling in die Du Plessis-huis is. Boonop verklap hy meer oor sy liefde vir kosmaak, asook die spesiale betekenis agter sy verhoognaam.

Volle episodes van dié reeks is op AfriForumTV te sien, terwyl gaste se resepte en ʼn korter episode met die hoogtepunte hier op Maroela Media beskikbaar is.

Waarvoor wag jy, kom proe gou hier!

Ruan Josh se omgekeerde appeltert

Bestanddele:

  • 150 g botter
  • 6 Granny Smith‑appels
  • 1 koppie suiker
  • 1 rol skilferkorsdeeg
  • knippie sout
  • kasjoeneute
  • kaneel, volgens smaak
  • mentblare vir garnering
  • vanillaroomys of styfgeklopte room

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Skil al die appels en sny soos jy verkies – dit kan groot of kleiner stukkies wees.
  3. Rol die deeg uit sodat dit omtrent 8-10 mm dik is.
  4. Kap of sny die neute.
  5. Gooi die suiker en botter in ʼn pan oor mediumhitte en roer liggies elke nou en dan tot daar ʼn mooi karamel begin vorm (jy sal borreltjies sien).
  6. Voeg die appelstukke by en roer kort-kort liggies sodat al die appels met die karamelsous bedek word.
  7. Strooi die neute eweredig op die appels en voeg die knippie sout by.
  8. Los alles om vir nagenoeg 10 minute te prut of totdat die appels sag raak.
  9. Haal die pan van die stoof af en plaas die deeg bo-op die appels. Maak seker om die kante lekker in te vou, asof dit ʼn pastei is. Pasop, die karamelsous is vuurwarm!
  10. Druk ʼn paar gate in die deeg met ʼn mes of vurk sodat die stoom in die oond kan ontsnap.
  11. Smeer die oorblywende botter bo-oor jou deeg met ʼn kwassie of lepel.
  12. Sit die pan terug in die oond en bak vir ongeveer 20 tot 25 min totdat die deeg mooi bruin is.
  13. Haal die pan uit die oond en laat dit afkoel vir nagenoeg 15 tot 20 min. Maak daarna die kante van die deeg met ʼn mes los sodat niks vashaak as jy dit omdraai nie.
  14. Plaas ʼn houtbord of bord van jou keuse onderstebo op die pan en draai die pan met een egalige beweging om sodat jou deeg nou onder en jou appels in die karamelsous bo is.
  15. Garneer met ʼn mentblaartjie en bedien met room of roomys.

Ruan se wenk:

Rasper die appels fyn indien jy nie van die tekstuur van warm, gesnyde vrugte hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.