Soorte resepte:

Resep: Korslose quiche met gebraaide ui, sampioen en mascarponekaas

Korslose quiche met gebraaide ui, sampioen en mascarponekaas (Foto: The South African Mushroom Farmers’ Association)

Jy kan hierdie korslose quiche saam met geroosterde tamaties vir ontbyt of met  ʼn slaai vir middagete voorsit.

Lewer 4 tot 6 porsies

Bestanddele

  • 15 ml olie
  • 2 uie, geskil, gehalveer en in dun skyfies gesny
  • 5 ml bruinsuiker
  • 15 ml rooiwynasyn
  • 15 ml botter
  • 350 g sampioene (bruin, portabellini- of knopiesampioene of mengsel van sampioene), in skywe gesny
  • 2 gekookte aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • 150 g wit cheddarkaas, gerasper
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 4 eiers
  • 250 g mascarponekaas
  • 5 ml vars tiemie

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Verhit die olie in ʼn pan en braai die uie vir 10 minute oor lae hitte.
  3. Voeg die suiker en asyn by en kook vir 5 minute.
  4. Plaas die uiemengsel op ʼn bord en sit die pan terug op die stoof.
  5. Voeg die sampioene by en braai 5 tot 7 minute oor hoë hitte.
  6. Spuit ʼn oondvaste braaipan of koekpan met kleefwerende kossproei.
  7. Skep die aartappelblokkies onder in die pan, gevolg deur die sampioene en uie.
  8. Bedek met die gerasperde kaas en geur goed met sout en peper.
  9. Klits die eiers in ʼn mengbak tot goed geklits en klits dan die mascarponekaas by.
  10. Giet die eiermengsel oor die quiche-mengsel en bedek met tiemie.
  11. Bak 35 tot 45 minute, of tot goudbruin en gestol.

Bron: Suid-Afrikaanse Sampioenkwekersvereniging 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.