Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Biltong-en-aspersiesop

Biltong-en-aspersiesop (foto: Verskaf)

Hierdie sop neem van begin tot einde net 30 minute om te maak. Indien die bestanddele nie in rou formaat beskikbaar is, kan jy met die geblikte produk soos aspersies en poeier-kapokaartappel werk, dan maak jy die sop binne 10 minute. Die vars produk bly nog die heel lekkerste, maar as tyd druk, dan kroek ons almal maar soms. Hier is vir julle sommer twee resepte in een!

Langpad (30 minute)

Bestanddele

  • 30 g (2 e) botter
  • 1 prei of ui (klein), fyn gekap
  • 250 g aartappels, geskil en grof gekap
  • 500 ml (2 k) water
  • 6 e tuisgemaakte soppoeier (Klik hier vir die resep.)
  • 500 g aspersies as dit vars is, stokkerige onderste gedeelte verwyder en in 2 cm-stukkies gesny
  • knippie borrie
  • 150 ml room
  • 15 ml (1 e) dillepuntjies, gedroog, of 45 ml (3 e) vars dille
  • 1 k dun gekerfde biltongstukkies

Metode

  1. Smelt die botter en braai die ui tot sag vir 5 minute in ’n diep kastrol.
  2. Voeg die aartappels, water en aftreksel by. Kook die mengsel vir 15 minute totdat die aartappels sag is.
  3. Voeg dan die aspersies en borrie by en kook totdat die aspersies al dente is vir ongeveer 3-5 minute.
  4. Neem die helfte van die sop en puree dit. Giet die sop terug by die res van die mengsel in die kastrol en voeg die room en dille by. Roer die biltong by en dien dadelik op. Biltong kan ook met gaar spek of kaiings vervang word.

Kortpad (10 minute)

Bestanddele

  • 30 g (2 e) botter
  • 1 prei of ui (klein) opgekap
  • 1 pakkie Smash original
  • 1 blikkie aspersies (hou die vog van die aspersies en vul aan met water tot 500 ml)
  • 6 e tuisgemaakte soppoeier (Klik hier vir resep.)
  • 15 ml dillepuntjies, gedroog, of 45 ml (3 e) vars dille
  • 1 k dun gekerfde biltong

Metode

  1. Smelt die botter en braai die ui tot sag vir 5 minute in ’n diep kastrol.
  2. Plaas water en aspersies in die kastrol met die uie in en verhit tot kookpunt.
  3. Voeg die Smash by en roer tot verdik. Voeg die res van die bestanddele by, puree die mengsel en roer die biltong by. Dien dadelik op.

Besoek Annelien Pienaar se webwerf en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Ek wil net weet die kortpad resep sê roer die spek by. Is dit spek of biltong?

Sune van Heerden ·

Dagsê Willem

Dankie vir jou boodskap.
Ons vra om verskoning! Dit moet inderdaad “biltong” wees. Die biltong kan met gaar spek of kaiings vervang word.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.