Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Eend oor die kole

Eend oor die kole (Foto: Verskaf)

Annelien Pienaar, voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist, het met Nick van Zyl van The Duck Father gesels oor eendevleis en die verwerking van eend in Suid-Afrika.

“Wat my opgeval het, was die netheid van sy perseel, fabriek en die entoesiasme van sy werkers. Ek het bietjie uitgevra oor sy reis om tot hier te kom.”

Nick vertel:

Ek en vroulief het so vyf jaar gelede ons eerste 20 eende aangekoop vir haar as ’n stokperdjie op die plaas terwyl ek daagliks by Game Mahikeng in Noordwes gewerk het.

Daar het ’n tyd gekom wat ons moes terugkeer Gauteng toe en só is die eende, skape, honde en die res van ons kroos verskuif na ’n plot naby Lanseria. Ongelukkig was die inbrake en geweld van so ʼn aard dat ons weer moes trek, hierdie keer na Bapsfontein wat toe ook darem so bietjie nader was aan die abattoir wat ons toe gebruik het hier op Sundra.

In Oktober 2017 is ’n tornado hier deur wat ook OR Tambo-lughawe getref het en daar het so te sê niks oorgebly van die ou plaasgeboutjie nie. In Desember van dieselfde jaar was daar ’n haelstorm wat ons 50% van ons vrylopende pluimvee gekos het en in Januarie 2018 het weerlig die grasdakhuisie getref wat ons gehuur het en dié is toe verwoes.

’n Belegger het oor ons pad gekom en The Duck Father SA is weer begin. Ons het ’n plot gekoop op Sundra waar ons so 15 000 voëls ten alle tye aanhou op ’n vryloop basis en dan slag en verpak ons hulle weer by die abattoir 8 km pad af.

Dieselfde abattoir wat verwoes was in die storm het ons herbou tot op uitvoerstandaard en is vandag die enigste abattoir wat goedgekeur is vir lae uitset uitvoere in Afrika. Ons slag ook hoenders, hase en makoue. Met behulp van ons agente het ons ook al eend gestuur na lande soos Mosambiek, Namibië en Botswana.

Ons produk is beskikbaar by Checkers-winkels in Gauteng en ook EconoFoods‑takke landwyd. Ons het tans ses verspreidingsagente wat agt provinsies bedien.

Resep: Eend oor die kole

Daar is vir my ’n heerlike lekkerte aan hierdie eend. Die vleis is sag en dieper in kleur, met ʼn soet en vars smaak. Die kruie en sous wat berei word, bring die heerlikste tekstuur en kleur te voorskyn tydens die gaarmaak van die vleis.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 4 eendkwarte
  • 1 k appelkooskonfyt
  • 1 k fyn pynappel met sap
  • ¼ k Worcestersous
  • ½ k olyfolie
  • 1 k fyn uie, gebraai tot glansend
  • 2 e knoffel, gedroog
  • 1 t gerookte paprika
  • sout en peper na smaak

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Pak eendstukke in oondbak en bedek. Bak dan vir 45 minute en verwyder uit die oond. Maak ook solank vuur sodra die vleis in die oond gaan.
  2. Puree die res van die bestanddele saam totdat die uie glad vertoon. Dreineer die eend en giet die mengsel oor die eend. Braai die eendporsies vir 25 minute albei kante oor mediumhitte kole en smeer die sous deurentyd met ʼn kwassie oor.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.