Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Gepekelde varknekrol

Gepekelde varknekrol (Foto: Verskaf)

Ons as gesin leef so ver moontlik sonder preserveer-, kleur- en geurmiddels. Met my laatlam Filistyntjie het ek tot ’n skokkende ontdekking gekom hoe erg sy op hierdie middels reageer.

Selfs kouevleis vir toebroodjies wat ʼn mens op die winkelrakke kry, is vol van hierdie middels. Ek het ook gevind dat varknek redelik billik is en vir my is dit maklik om dit te ontbeen. Jy kan jouself egter baie tyd en moeite bespaar en vars varknek by ’n slagter koop en vra dat hulle dit vir jou ontbeen vir die doel van kouevleisrolle maak.

Ek is elke keer opgewonde om die eindproduk te sny – dit is net een stuk mooi vleis met goeie nutriënte vir my gesin. Kom ons begin.

Annelien Pienaar is ʼn voedselwetenskaplike en die skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Bestanddele

VARKNEKROL

  • 1,5 kg varknekrol, ontbeen
  • katoengaring om die rol te bind
  • 3 e gelatienpoeier
  • 1 t mediumgrowwe sout
  • 1 t peper

INVRYFSOUT

  • 1 t mediumgrowwe sout
  • 1 e Worcestersous
  • 1 e bruinsuiker
  • 1 e knoffelvlokkies, gedroog
  • 1 e heuning
  • 4 e olyfolie
  • 4 e karringmelk of gewone jogurt
  • 1 e mosterdpoeier
  • 1 e salie of roosmaryn

Metode

  1. Plaas ’n groot stuk kleefplastiek op ’n oppervlak en plaas die vleis daarop. Vlek die rol oop en sprinkel die rol met sout en peper en vryf in.
  2. Sprinkel dan die gelatien oor die hele rol en veral los dele. Die rede vir die gebruik van die gelatien: Gelatien dien as bindmiddel en om die vleis netjies bymekaar te hou wanneer dit gesny word.
  3. Rol die vleis baie styf op en trek dit goed saam in ’n wors met die kleefplastiek. Plaas die vleis op ’n bakplaat en sit die vleis in die vrieskas vir 2 ure om te set en meer hanteerbaar te maak.
  4. Maak ongeveer 5 m katoentou nat. Droë tou is geneig om die vog uit die vark te trek en suig dan vas. Nat tou maak dit makliker om dit na die tyd af te haal. Ek hou van ’n perfekte rol as die toue los gesny word.
  5. Sny die tou in ongeveer 40 cm repe en plaas dit dan op ’n werksoppervlak ongeveer 2 cm uit mekaar. Hou aan repe neersit sodat dit min of meer die lengte van die rol dek.
  6. Haal die vleisrol uit die vrieskas en plaas dan dwars oor die tou. Bind die toutjies styf vas.
  7. Vryf die rol met die invryfmengsel in en marineer oornag.
  8. Volgende dag: Bak teen 170 ℃ vir 4 ure. Laat goed afkoel en draai styf in foelie toe. Plaas in yskas en laat die binnekant afkoel tot 4 ℃ vir langer as 10 ure. Haal na die verkoeling eers die toutjies af.
  9. Sny die vleis in dun skyfies voor jy dit vir toebroodjies of slaaie gebruik.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.