Soorte resepte:

Resep: Oondgebakte hoender

Oondgebakte hoender. (Foto: Lapa Uitgewers)

Desember is ʼn maand vir familie-feesviering. Geniet dié hoendergereg saam met jou geliefdes.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele

  • 1 heel hoender
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 uie, geskil en in dik skywe gesny
  • 1 suurlemoen
  • 3 groot knoffelhuisies, geskil en effe gekneus
  • 4 takkies vars tiemie
  • 45 ml (3 e) ongesoute Clover Springbok-botter
  • 250 ml (1 k) hoenderaftreksel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 220 °C.
  2. Maak die hoender goed skoon en sny die oortollige vet af. Spoel die hoender binne en buite onder lopende water af en druk dit met kombuispapier droog.
  3. Strooi genoeg sout en peper aan die binne- en buitekant van die hoender.
  4. Rangskik die skywe uie op die bodem van ʼn oondvaste bak.
  5. Rol die suurlemoen met jou hand op die werksoppervlak sodat die sap makliker kan uitvloei. Prik die suurlemoenskil met ʼn vurk.
  6. Plaas die suurlemoen, knoffelhuisies en tiemie in die holte van die hoender. Vou die hoender se bene oorkruis en bind dit met ʼn stukkie tou vas. Vou die vlerkies onder die hoender in.
  7. Smeer die botter oor die hele buitekant van die hoender en strooi weer sout en peper oor. Plaas die hoender op die uie in die bak.
  8. Bak die hoender vir ongeveer 90 minute tot goudbruin, bros en gaar. Haal dit uit die oond en laat dit vir 10 minute rus.
  9. Giet intussen die pansappe in ʼn klein kastrolletjie en skep die meeste vet af. Verhit die pansappe stadig tot kookpunt en roer die hoenderaftreksel deur. Verhit dit tot kookpunt en laat die sous met die helfte wegkook.
  10. Sny die tou om die hoender se bene los en verwyder die suurlemoen, knoffel en tiemie.
  11. Sit die hoender saam met die sous voor soos verkies.

Bron: Gunsteling Suid-Afrikaanse kos
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Coenraad ·

90min teen 220 grade klink vir my bietjie rof, ek glo die hoender sal brand vir so lank teen 220. Ek sou sê 60-70min teen 180 grade…

Rudolf ·

Gisteraand die resep probeer. Dit is beslis `n wenner. Smelt in die mond. Het `n groterige loslopende hoender gebruik en die 90 minute was reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.