Bek-en-klouseer-beheergebied vergroot

Die bek-en-klouseer-beheergebied is groter gemaak. (Argieffoto)

Die stryd teen die verspreiding van bek-en-klouseer het rolspelers gedwing om drastiese stappe te doen en die regering het die grense van die bek-en-klouseer-beheergebied wyer getrek.

Die nuwe grense is in die Staatskoerant onder die Dieregesondheidswet 35 van 1984 afgekondig en maak nou die bestaande bek-en-klouseer-beheergebied in Limpopo en KwaZulu-Natal nog groter.

Dié aanmeldbare en hoogs aansteeklike, ekonomies belangrike veesiekte het onlangs skielik ver buite die beheergebied versprei en belanghebbendes doen nou alles in hul vermoë om te verhoed dat dit heeltemal handuit ruk.

Die uitwerking hiervan is so drasties dat China ʼn ruk gelede die invoer van wol en nou ook sybokhaar uit Suid-Afrika opgehef het.

Gerhard Schutte, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), sê dié organisasie was ook betrokke in die besluitnemingsproses en hulle ondersteun die uitbreiding van die grense heelhartig. “Dít is ʼn verdere poging om bek-en-klouseer onder beheer te kry en dit sal help om die bewegingsbeheer van diere, dierlike produkte en genetiese materiaal in en uit daardie gebied doeltreffender te bestuur.”

Die siektebeheergebied in KwaZulu-Natal lyk nou soos volg:

  • die hele Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit, bestaande uit die plaaslike munisipaliteite van Jozini, Umhlabuyalingana, Groot Vyf Hlabisa en Mtubatuba;
  • die hele King Cetshwayo-distriksmunisipaliteit, bestaande uit die plaaslike munisipaliteite van uMfolozi, uMhlathuze-stad, uMlalazi, Nkandla en Mthonjaneni;
  • die hele Hluhluwe-Imfolozi-wildreservaat;
  • die hele plaaslike munisipaliteite Nongoma en Ulundi in die Zoeloeland-distriksmunisipaliteit;
  • die gedeelte van die Pongola- plaaslike munisipaliteit in die Zoeloeland-distriksmunisipaliteit wat oos van die R66, suid en wes van die N2 lê. Daarby ingesluit is die gedeelte wat oos van die N2 lê, bestaande uit die gedeelte suid van die P522-pad wat na Jozini lei;
  • die gedeelte van die Maphumulo- plaaslike munisipaliteit in die Ilembe-distriksmunisipaliteit wat oos van die R74 lê;
  • die gedeelte van die Ndwedwe- plaaslike munisipaliteit in die Ilembe-distriksmunisipaliteit wat oos van die R74 en noord van die P11-pad lê;
  • die gedeelte van die KwaDukuza- plaaslike munisipaliteit in die Ilembe-distriksmunisipaliteit wat ten noorde van die P110-pad lê;
  • die gedeelte van die Mandeni- plaaslike munisipaliteit in die Ilembe-distriksmunisipaliteit wat noord van die P110-pad, aan die oostekant van die R102 lê, asook die gedeelte noord van die Tugelarivier aan die westekant van die R102;
  • die gedeelte van die Umvoti- plaaslike munisipaliteit in die Umzinyathi-distriksmunisipaliteit wat aan die ooste- en noordekant van die R74 en oos van die R33 lê;
  • en die gedeelte van die Msinga- plaaslike munisipaliteit in die Umzinyathi-distriksmunisipaliteit wat oos van die R33 en suid van die Tugelarivier lê.

Kaart wat die ou en nuwe bek-en-klouseerbeheergebied in KwaZulu-Natal aandui. (Foto: Gerhard Schutte)

 

In Limpopo is die siektebeheergebied soos volg uitgelê:

  • die hele Collins Chabane- plaaslike munisipaliteit;
  • die hele Thulamela- plaaslike munisipaliteit;
  • die gedeelte van die plaaslike munisipaliteite Groter Giyani, Groter Letaba en Molemole wat noord van die R36 vanaf die N1-snelweg op pad na Mooketsi lê. Dit sluit ook die gedeelte al langs die R81 vanaf Mooketsi tot waar die pad die Klein Letabarivier kruis, tot by die heining van die Kruger- Nasionale Park (KNP) in;
  • die gedeeltes van die plaaslike munisipaliteite Makhado en Musina oos van die N1, van waar die R36 die N1 kruis, insluitend die Musina-natuurreservaat. Die beheergebied loop dan al langs die Musina-natuurreservaat se grens tot waar dit die Venetia-mynpad kruis. Dan volg dit die Venetia-mynpad tot by die R521 en volg dan die R521 tot by die landsgrens by die Pont Drift-grenspos;
  • en die noordelike grens is die landsgrens tussen die Pont Drift-grenspos en die KNP se heining, terwyl die KNP se heining ook as die oostelike grens dien.

 

Kaart wat die ou en nuwe bek-en-klouseerbeheergebied in Limpop aandui. (Foto: Gerhard Schutte)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Dis nogal snaaks of eronies, ons boere doen hul bes om siektes te beheer en dan kom ander wat vere voel en binne ‘n oogwink verander hulle alles in chaos. En dan is dit nie hulle skuld nie. Hulle breek die ekonomie af maar is dan kwaad as hulle nie verhogings kry nie. Hoe moet mens ‘n nasie, ‘n volk, ‘n land opbou met sulke wesens!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.