Bek-en-klouseer oorheers RPOWK-jaarvergadering

Die Rooivleisprodusente-organisasie in die Wes-Kaap het verlede week sy jaarvergadering gehou. (Foto: Verskaf)

Biosekerheid en volhoubare rooivleisproduksie was die tema van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPOWK) se algemene jaarvergadering wat verlede week te Caledon plaasgevind het.

Met die onlangse uitbreek van bek-en-klouseer in vyf provinsies is biosekerheid ʼn saak wat boere tans fyn dophou. Al die sprekers wat hul insette gegee het, was dit eens dat bek-en-klouseer dringend bekamp moet word.

Dr. Gideon Brückner, lid van die ministeriële taakspan vir dieresiektebiosekerheid, sê siektes en patogene word tans vinniger vervoer en versprei as die gemiddelde inkubasietydperk van die meeste dieresiektes. Risikofaktore wat Suid-Afrika se biosekerheid bedreig is onder meer die onwettige en onbeheerde beweging van diere. Dit sluit die beweging na en vanaf veilings, asook menslike beweging vanaf besmette plase in.

Dr. Graham Leask, ʼn staatsveearts van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê boere moet met die hulp van kenners ʼn bestuursplan vir hul eie plase ontwikkel sodat die grondbeginsels van biosekerheid doeltreffend ingestel kan word. Leask beskou goeie kommunikasie met omliggende plase as een van dié beginsels, en sê optimale voortplanting en groei sal geskied wanneer plase se biosekerheid reg ingestel is.

Willie Clack, adjunkvoorsitter van die nasionale RPO, het terugvoer oor ʼn verskeidenheid van sake gegee, onder meer Suid-Afrika wat sy bek-en-klouseervrystatus by die Dieregesondheidsorganisasie (IOE) kwyt is, die struikelblokke wat marktoegang kniehalter en die rol wat die RPO op nasionale vlak speel.

By die vergadering is Nico Uys en Jaco van den Berg onderskeidelik as voorsitter en visevoorsitter herkies.

 

Ander kwessies

Lt.kol. Johan Smit van die SAPD het terugvoer oor veediefstal in die Wes-Kaap gegee en sê veediefstal bly een van die moeilikste misdade om te ondersoek, aangesien dit ʼn relatief maklike misdaad is om te pleeg wat min risiko behels. Hy moedig boere aan om sake aan te meld, aangesien 98% van hofsake suksesvol is.

Marina Bester van Skaapvleis SA het ook as spreker tydens die vergadering opgetree en sê Suid-Afrikaanse verbruikers word beïnvloed deur internasionale narratiewe oor die uitwerking wat die vleisbedryf op die omgewing het – iets wat produsente nie ligtelik moet opneem nie.

Sy meen volhoubaarheid behels veel meer as net die omgewing en deur ʼn verskeidenheid van studies wat tans in Suid-Afrika gedoen word, beywer Skaapvleis SA hom om die feite, soos die belangrike ekonomiese rol wat die vleisbedryf speel, met lede van die publiek te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.