Bonsmara-wêreldrekordprys verdubbel

Up George Bonsmaras het hierdie bul tydens sy produksieveiling vir R4,4 miljoen verkoop. (Foto: facebook/upgeorgebonsmaras)

Bonsmara SA, die Bonsmara-telergenootskap, glo die vooruitsig vir dié ras is steeds stabiel nadat daar in die afgelope tyd ʼn paar uitskieterpryse vir bulle behaal is – en die wêreldrekordprys vir ʼn bul onlangs meer as verdubbel het.

ʼn Vier jaar oue bul, LAR 19 373, is onlangs vir R4,4 miljoen verkoop tydens Up George Bonsmaras se jaarlikse produksieveiling by Wasbank in KwaZulu-Natal. Die veiling is aanlyn en regstreeks aangebied en 70 bulle en 70 dragtige koeie is opgeveil.

Die vorige rekordprys van R2,1 miljoen is verlede jaar op ʼn veiling by Stella in Noordwes behaal.

Tydens die Up George-veiling is daar nog ʼn bul vir R2 miljoen verkoop.

Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA het aan Maroela Media gesê die verdubbeling in prys is ʼn groot stap vorentoe, maar nie ʼn aanduiding dat sake besig is om handuit te ruk nie. “As jy in die geheel kyk, bepaal elke veiling steeds sy prys en tydens Up George se veiling was dit maar net twee telers wat bereid was om hul hande diep in hul sakke te steek.”

Hy sê LAR 19 373 is uit uitstekende bloedlyne geteel en so na aan perfek as moontlik. “Sy syfers is uitstekend en sy konformasie is baie naby aan die perfekte prentjie wat ons in die Bonsmara-bedryf wil sien.”

Volgens Steyl is die Bonsmara-mark stewig omdat daar ʼn verskriklike groot kommersiële mark vir die ras is. “Speenkalfboere is bereid om ʼn  premie vir goeie genetika te betaal.”

Hy sê nog ʼn aanwyser is dat 80% van Bonsmara-bulle na kommersiële kopers gaan en dat hul koeie ook baie goed presteer, wat noodwendig in die kuddes reflekteer.

“Verlede jaar het ons 2 870 bulle op veilings, teen ʼn gemiddelde prys van R79 000 stuk, verkoop. As jy dus die ou duimrëel gebruik dat agt speenkalwers vir ʼn bul se prys moet verkoop, wat rondom R70 000 is, is ons veilig.”

Daar is 320 Bonsmara-telers en 120 produksieveilings word vanjaar aangebied.

Die Bonsmara-ras is ʼn plaaslik geteelde beesras en is geteel uit vyf agtstes Afrikaner, drie sestiendes korthoring en drie sestiendes Hereford.

Bonsmara-boere teel vir ʼn meduimraam dier, maar daar word sterk op die volwasse gewig gefokus, wat beteken dat ʼn koei tussen 500 kg en 520 kg moet weeg.

Daar is wel variasies in Suid-Afrika en Steyl sê namate jy na die ooste van die land beweeg, word die rame kleiner. Hulle verwys egter eerder na ʼn medium minus. Namate jy wes beweeg, sal hulle na ʼn medium plus-raam verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Het party boere net te veel geld of is daar ander redes om hierdie belaglike pryse te betaal vir beeste?

Pannies ·

Die Up George bulle maak n pragtige prentjie, maar die groter raam werk nie op meeste Bonsmara koeie nie. Ek moes my Up George stoetbul laat slag, omdat ek te veel skade gehad het met koeie wat nie kon kalf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.