De Ruyter se plan vir Eskom

Andre de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom wil Suid-Afrikaanse steenkoolkragstasies se koolstofvoetspoor as hefboom gebruik om finansiering vir hernubare krag te kry. (Foto: Du Preez de Villiers)

Suid-Afrika se steenkoolkragstasies is baie ongewild onder heelwat regerings en organisasies wat klimaatsverandering wil bekamp.

Dit beteken dat te midde van die voortslepende gespartel om die ligte aan te hou, word internasionale minimum emissiestandaarde (MES) ook op Eskom afgedwing. In April vanjaar sou Suid-Afrika dadelik 16 000 MW se opwekkingsvermoë verloor het as hy nie daarteen geappelleer het nie.

Volgens André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, sou daar mettertyd ʼn verdere 30 GW afgeskakel moes word om nie opgelegde omgewingswette te oortree nie.

“Suid-Afrika se energie- en omgewingsbeleid kom nie mooi bymekaar nie en indien ons nie grasie gegee is nie, sou vlak 8‑beurtkrag deurlopend geheers het. Ons sou skoon lug kon inasem, maar in die donker gesit het,” het hy tydens die Landbousakekamer (Agbiz) se kongres gesê.

“Om aan MES te voldoen moet ons R300 miljard op toerusting spandeer om emissies te bekamp, wat niks tot ons kapasiteit bydra nie en boonop sal dit omtrent 10 MW se kapasiteit per aanleg verbruik. Daarbenewens sal dit 60 miljard liter water per jaar verbruik. Dan sal ons ook kragstasies vir ʼn ruk moet afskakel om die toerusting te installeer en in werking te stel.

“Maar ons moet daaraan voldoen. Ons het 7 000 sterftes weens swak luggehalte. Dit is nie alles fabrieke se skuld nie, maar ook energie-arm mense wat hout en kool in hul huise brand.”

Opsies is min

“Ons sien vertragings in die vestiging van hernubare energie en ondervind tans dat 40% minder onafhanklike kragverskaffers (OKV’s) aanlyn gekom het as wat verwag is. Ons verwag dat daar in 2031 sowat 50% minder gaan wees as wat oorspronklik beplan is.”

Die geïntegreerde hulpbronplan van 2019 (IRP 2019) maak wel voorsiening vir ʼn bykomende 1 500 MW se koolstofkragstasies, maar ons sal nie finansiering, omgewingsgoedkeuring of versekering daarvoor kan kry nie.

Hy sê daar is ook sprake van hidro-elektriese krag van die Demokratiese Republiek van die Kongo, maar die kraglyne sal omtrent deur ses lande moet loop, wat ʼn baie duur en ingewikkelde oefening gaan wees.

Kernkrag is ook nie ʼn uitweg nie. “Internasionale rolspelers het vir my gesê oral in die wêreld waar sulke kragsentrales in aanbou is, is die begroting en tydsduur vêr oor wat aanvanklik begroot is omdat dit ’n geweldige ingewikkelde stelsel is. In Suid-Afrika veral leen ingewikkelde projekte hulle tot meer korrupsie.”

Eskom sal sy Komati-kragstasie teen September vanjaar buite diens moet stel omdat hy dan die einde van sy leeftyd bereik het. Daarna gaan die oudste kragstasies een na die ander volg en in 2035 gaan ons met ʼn reusekrisis sit wanneer Suid-Afrika ʼn dramatiese tekort aan opwekkingskapasiteit sal hê. “Dit skep die noodsaaklikheid om nou op te tree om dit te verhoed. Daarbenewens moet ons voorsiening maak vir ʼn ekonomie wat groei,” sê hy.

Plaas hoop op son en wind

“Die goeie nuus is dat ons ʼn eksponensiële val in die koste van hernubare energie soos sonkrag sien. ʼn Ruk gelede het dit meer as R3 per kWh gekos en vandag staan dit op 36c per kWh – dit te danke aan tegnologiese ontwikkeling, ekonomie van skaal en die verhoging in doeltreffendheid,” sê De Ruyter.

“Om daarin te belê gee ons die geleentheid om ons land te ontkool, om internasionale finansiering te kry en dit sal ook baie vinniger geïmplementeer kan word om in die nasionale behoefte te voorsien.”

Hy sê hoewel die Noord-Kaap tans die gewildste ligging is om sonplase te bou, is die provinsie se kragnetwerkinfrastruktuur karig. Dit gaan 10 jaar en 8 000 km se bykomende kraglyne kos en dan moet daar ook omtrent 100 nuwe substasies gebou word.

“Ons het nie tien jaar nie, maar daar is reeds ʼn baie goeie infrastruktuur in Mpumalanga en soos ons die steenkoolstasies afskakel, gaan die kragoordrag- en verspreidingskapasiteit beskikbaar gestel word wat reeds aan die mark gekoppel is.”

Studies het ook getoon dat die potensiaal vir die opwekking van son- en windkrag in Mpumalanga baie goed lyk.

Peperduur megaprojek

“Net in Mpumalanga besit Eskom 36 000 ha se grond en ons het onlangs tenders uitgesit vir billike, langtermynverhuringskontrakte. Ons kan aankondig dat ons reeds 1 800 MW in hierdie eerste fase van die program begin opwek het.

“Daar moet altesaam R1 200 miljard (R1,2 triljoen) in hernubare energie belê word om die energiekrisis oor die volgende dekade die hoof te bied. Dit sal R1 000 miljard in opwekkingskapasiteit, R130 miljard in kragoordrag en R56 miljard in verspreiding wees.”

Hy stel Suid-Afrikaners egter gerus dat daar geen las op die belastingbetaler sal wees nie, want alles moet met private kapitaal gedoen word.

“So ʼn megaprojek is nie onmoontlik nie. Omdat Suid-Afrika die twaalfde grootste koolstofintensiewe land in die wêreld is, stel dit ons in staat om by lande wat verbete teen klimaatsverandering veg, vir hulp te gaan aanklop. In gesprekke wat ons met leners en regerings gehad het, is daar ʼn groot aptyt om hierdie gaping te neem en ons te ondersteun.

“Ironies genoeg is ons koolstofvoetspoor ʼn bate wat ons kan gebruik om finansiering te kry. Ons kan hierdie krisis in die grootste geleentheid omskep.”

Hy sê terselfdertyd sal dit ʼn enorme stimulus vir die ekonomie wees wanneer private beleggers, wat komponente vervaardig, hierheen gelok word.

“Indien hierdie roete nie gevolg word nie, sal die wêreldwye ekonomie Suid-Afrika boikot. Die Europese Unie het juis verlede jaar ʼn stewige koolstofbelasting op die invoere van landbouprodukte en minerale geplaas. Boere sal dus nie so mededingend soos nou kan wees nie.

“As jy slim is, trek jy sakelui en maak dit vir hulle aanloklik sodat hulle bereid is om plaaslik reusebeleggings te maak. Jy moet mededingende voordele soos belastingkorting en ekonomiese sones bied en hulle dan vashou sodat hulle nie wil onttrek nie,” voeg De Ruyter by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

40 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Glo nie meer ‘n woord wat oor sy lippe kom nie .

krodedil

So gaan die gebruikers vir alles betaal bietjie vir bietjie. Kyk hoe gaan die krag op.
Mnr de Ruyter vertel ‘n bietjie vir die publiek hoekom moet Eskom R2-74 betaal per kWH vir sonplase maar mag dit net verkoop vir 93c.

Sons

Bla bla bla!!!! Glo nie meer n woord wat hy se nie, Eskom is so diep in die dinges twyfel of Eskom gered kan word!!!!????????

Johan SA

Ok, so, ons het 7000 sterftes weens lug gehalte. Oor watter tydperk? Hoe word dit bepaal. Wat presies is die simptome. Maar wees duidelik, soos presies wanneer word daar op jou doodsertifikaat gesit, Oorsaak van dood: “swak luggehalte”

Manie

Doen wat ookal nodig is mnr de Ruyter, selfs steenkool gebruik as dit moet. Ons infrastruktuur is vêr van westerse standaarde, so ons kan nie ons ekonomie vernietig ten koste van wat die wêreld verwag nie, dis vir die langtermyn.