Nampo Park buite Bothaville het sy nuwe vennoot, Nampo Alfa, verwelkom met die aanbieding van sy eerste skou op die tuiste van Nampo Oesdag.
Volgens Albert Loubser, hooforganiseerder van Nampo Alfa, was daar twee redes waarom hy hierdie groot stap gedoen het om vir dié veeskou ʼn nuwe tuiste te vind.
“Hoewel Afridome in Parys ʼn uitstekende skou-ervaring gebied het, het Alfa so gegroei dat ons iets groters moes vind. Tweedens wou Graan SA, wat met Nampo Oesdag grootliks op graan fokus, ook ʼn jag-en-buitelewe-ekspo van stapel stuur. Met die veekomponent het ons sinergie daarmee gevind.”
Dit was die sewende Alfa, waarvan vier voorheen fisiek en twee aanlyn tydens die Covid-inperkings aangebied is.
Buiten die beeste, skape en bokke van topgehalte wat van tot Vryburg, Thabazimbi en die Paarl aangery is en hul uitstekende syfers kon afwys, het besoekers ook na vertonings van Australiese beeshonde, ʼn jeugskou, kamele, miniatuurperdjies en -donkies, pluimvee en varke gekyk.
Loubser sê daar is ʼn paar sterk beginsels waarop dié skou berus.
“Hier kyk ons holisties na lewendehawe. Hier is nie net beeste, skape en bokke nie, want geïntegreerde boerdery is vandag baie sterker as gefokusde landbou; nie dat jy nie moet fokus nie, maar enige spaarkapasiteit soos bestuur, kapitaal en ander hulpbronne moet aangewend word om meer winsgewend te wees en om jou risiko’s te versprei.
“Die tweede groot ding van Alfa, hier is interaktiwiteit en deelname. Jy staan nie ʼn armlengte weg nie, jy is betrokke.
“Verder is Nampo Alfa ʼn ekspo, nie ʼn skou nie. Hier is dit nie ʼn geval waar ek vir Blommetjie wil kom afwys nie, Blommetjie moet kwalifiseer om hier te wees.”
Hy sê Nampo Alfa is ook ʼn nasionale geleentheid hoewel hier ʼn sterk streeksfokus op die sentrale deel van Suid-Afrika is.
Nampo Alfa het besluit om weg te bly van politiek en die sprekers vir die paneelbesprekings is slegs gekies op grond van hul vermoë om die onderwerp ter sake tot landbou te bespreek. Daar is byvoorbeeld ʼn sterk verhouding met die Noordwes-Universiteit se sakeskool gesmee wat landboukundiges uitgenooi en die gesprekke gelei het.
“Alfa het ook ʼn jeugfokus en tussen die landbouskole en universiteite, asook die passie, kundigheid en momentum het ek uitstekende vooruitsigte. Die toekoms in landbou behoort regtig aan die jeug en hulle ingesteldheid.”
Nampo Alfa se sake is deur bek-en-klouseer deurmekaargekrap, maar daar is besluit dat hulle ʼn berekende risiko sou neem.
“Ons het nie hierdie ekspo aangebied omdat ons dapper is of nie besef hoe gevaarlik die pandemie is nie; ons erken dit juis en verstaan die biosekerheidsrisiko’s waaraan ons blootgestel is, maar dit is die nuwe ‘normaal’. Ons gaan nie weer terug na ʼn stadium voor bek-en-klouseer nie.”
Hy sê daar is ʼn horde ander staatsbeheerde siektes, soos tuberkulose en brusellose, wat reeds die hoof gebied word, maar wat nie noodwendig internasionaal so duidelik erken word nie.
“Biosekerheid is ʼn gegewe as jy in die teenwoordigheid van dieresiektes wil skou. Ons weet ons kan dit met elke dier wat hier is, doen, want hulle is volgens wetenskaplike protokol uitgekies en ons volg dit met ysere dissipline. Hoewel daar altyd risiko’s sal wees, het dié proses dit dramaties verminder.”
Daar was ook ʼn groot belangstelling uit die buiteland, hoofsaaklik uit SAOG-lande, asook Nigerië en Uganda. ʼn Uitvoerdiensverskaffer vir landbouprodukte, Waymakers, het ook sy kliënte in ʼn paviljoen saamgebring om belangstelling in dié sektor te prikkel.
Uitstallers en diensverskaffers van oral oor
In ʼn land soos Australië, waar plaasarbeid skaars is, word honde al geslagte lank ingespan om met vee te werk. Connie van Vuuren, boer en president van die nuutgestigte Cattledog Connection in Suider-Afrika, het gesien dat Suid-Afrika op ʼn soortgelyke trajek is. Hy het saam met geesdriftiges ʼn telersklub vir Australiese beeshonde gestig om dié ras in Suid-Afrika te bevorder.
Ben Wade is sekretaris van die Working Cattledog-vereniging in Australië en Belinda Carter is die president. Hulle is oorgenooi na Suid-Afrika om ʼn hondeopleidingskursus vir boere en telers aan te bied.
Dawid Niemann, kommersiële direkteur van die Sernick-groep, sê hulle het oor jare heen ʼn totale horisontale geïntegreerde waardeketting op die been gebring met die eienaar, Nick Serfontein, se bekende Bonsmara-stoet, kommersiële kudde, Fase-C-toetsstasie, veevoerfabriek, voerkraal, slagpale en ʼn kleinhandelwinkel.
Die veevoerfabriek produseer ongeveer 12 000 ton per maand waarvan ʼn derde intern gebruik word vir die stoet, kommersiële kudde en die voerkraal. Die res word in ʼn 300 km-radius rondom die plaas buite Edenville verkoop.
Sernick het ook die grootste privaat toetsstasie in Suid-Afrika.
Rovic Leers se enkelry sleepkuilvoerkerwer word uit Turkye ingevoer en is geskik vir kleiner boere. Andre van Heerden, RovicLeers se streeksbestuurder van die Vrystaat, sê die werktuig kan nou met ʼn kleiner trekker as die vorige modelle gesleep word omdat daar ʼn reduksieboks by die ratkas ingebou is, wat die behoefte van 50 kW tot 36 kW afgebring het. Die omwentelinge kan ook afgebring word wat meehelp dat ʼn boer brandstof bespaar.
Die meganisme wat die lemme vashou, is ook aangepas om die masjien meer doeltreffend te laat werk.
Jan Vosloo, bestuurder van die Vleismerino-telersgenootskap, sê dié ras is 90 jaar gelede vanaf Duitsland ingevoer. “Vele rasse het al uit die vleismerino ontstaan en gesamentlik het ons ʼn groot rol in die kleinveebedryf gespeel. Dit is ʼn dubbeldoelras met ʼn klem op lamsvleisproduksie. Ons produseer gehalte-lamsvleis, ons lammers groei vinnig en ons ooie lewer ʼn hoë persentasie meerlinge. ʼn Gemiddelde kudde behoort ʼn speenpersentasie van 150% te handhaaf.”
Daar is 140 stoete wat oor die Vrystaat, Mpumalanga, Hoëveld, Gauteng, Boland, Swartland, Karoo en Oos-Kaap versprei is, asook in die tradisionele wolproduksiegebiede.
Transem Melkery in Klerksdorp is ʼn familieonderneming wat in 1979 op die been gebring is. Hulle koop melk rondom Klerksdorp aan en produseer varsmelk, maas, jogurt, vrugtesappe en ʼn klein bietjie kaas. Volgende jaar wil hulle UHT-melk begin verpak.
Hulle voorsien werk aan 300 mense en het tans 18 boere wat elke dag 100 000 ℓ aan hulle lewer. Hulle is wel dringend op soek na nog 100 000 ℓ per dag om die langlewemelkfabriek te voorsien.
Joanita Coetser, hoof van rekeninge en aankope, sê hoewel die binnelandse melkboere na die kus uitwyk, glo sy nie almal sal verdwyn nie en hulle sal ook kyk waar hulle nuwe boere kan help.
Frikkie van Zyl is die departementshoof van landbou by die splinternuwe Hoërskool Trio in Kroonstad wat met 950 leerders begin het. Trio is ʼn gekombineerde skool wat landbou, tegnies en akademies aanbied en is ʼn samevoeging van die Blouskool en Rooiskool.
“Ons bied die volledige landboustudierigting soos in enige volwaardige landbouskool aan. In graad 8 en 9 loop die leerders die inleidingsvak, landboustudies, en vanaf graad 10 tot 12 bied ons die drie volledige landbouvakke, naamlik landboubestuurspraktyk, landboutegnologie en landbouwetenskap, aan.”
Elanco se manne waarsku dat boere nie hul oog van ander siektes moet afneem te midde van die bek-en-klouseerkrisis nie. Haarwurm is ʼn wesenlike probleem wêreldwyd en kom oor die hele Suid-Afrika voor. Vogtigheid en hitte maak ʼn haarwurm se siklus baie vinniger en daar is reeds eierladings op die weiding.
Elanco het ʼn nuwe produk, Zolvix met die nuutontwikkelde Monepantel-aktief, bekendgestel wat die eerste in groep 9 is. Dit is doeltreffend teen alle weerstandbiedende haarwurm in skaap wat reeds weerstand teen die ouer middels opgebou het.
Moet lede van die publiek steeds hul ent-sertifikaat wys, of ñ neg priktoets vir toegang tot NAMPO. ONS HET NIE VERGEET DAT JULLE ONS LAASJR NIE DAAR WOU HÊ NIE!