Gewasbeskerming in gedrang weens onrus

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Planttyd in die somerreënvalstreek is hier en beduidende hoeveelhede gewasbeskermingsprodukte moet nou ingevoer of vervaardig word.

CropLife Suid-Afrika, die bedryfsorganisasie wat na die gewasbeskermingsbedryf omsien, sê sy lidmaatskappye het reeds ernstige verliese aan infrastruktuur en voorraad in KwaZulu-Natal gerapporteer. Daarbenewens is die Durban-hawe tans nie in staat om enige voorraad te stuur of te ontvang nie en nuwe gewasbeskermingsprodukte kan dus nie die land binnekom nie.

“Ons is uiters bekommerd oor die voortslepende wetteloosheid in die land, veral in KwaZulu-Natal. Die impak van vandalisme en diefstal op landbouproduksie in KwaZulu-Natal (en die res van die land sou die situasie vererger) is veral kommerwekkend,” sê Rod Bell, hoof van CropLife Suid-Afrika.

“Ons ontvang ook berigte dat groot dele suikerriet- en stapelgraangewasse doelbewus in verskillende dele van KwaZulu-Natal vernietig is, tesame met sporadiese aanvalle op plaashuise.

“Gelukkig het ons geen berigte van beserings in ons lidmaatskappye se geledere ontvang nie.

“Aangesien planttyd vir die somerreënvalseisoen op ons is, is daar geen twyfel dat daar ʼn tekort aan gewasbeskermingsprodukte gaan ontstaan weens die diefstal en brandstigting nie. Daar is eenvoudig nie genoeg tyd om bestanddele of klaar geformuleerde produkte in te voer om die verliese te vervang nie.”

Bell sê die druk op voedselsekerheid in Suid-Afrika kan in die komende maande erg word. Hy doen ʼn beroep op die regering om alles in sy vermoë te doen om verdere verliese aan infrastruktuur of voorraad te voorkom wat van kritieke belang is vir suksesvolle aanplantings in hierdie plantseisoen.

“Honger en werkloosheid het geen politieke affiliasie nie, en ná die Covid-19-pandemie kan ons land nie sulke wetteloosheid bekostig nie.

“Daarbenewens word alle lidmaatskappye van CropLife SA versoek om die nodige maatreëls te tref om hul infrastruktuur, voorraad en werknemers te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.