Hollard praat jóú taal (waar jy ook al is)

ʼn Feestelike atmosfeer het by Hollard se kampus in Parktown geheers met die aanbieding van sy laaste stilhouplek van die landswye #WeAreWhereYouAre-makelaarsveldtog. (Foto: Du Preez de Villiers)

Met die slagspreuk, “plaaslike kennis is lekkerder”, het Hollard-versekering vroeër die week sy landwye #WeAreWhereYouAre-makelaarsveldtog by sy kampus in Johannesburg afgesluit.

Dié versekeraar met sy helder oranje en pers handelsmerkkleure het die afgelope tyd na tien groot sentra in Suid-Afrika gereis om met hul plaaslike makelaars blad te skud en hulle te vereer vir hul werk.

Andries Wiese, bestuurder van nasionale sakeontwikkeling en hoof van landbou by Hollard, het aan Maroela Media gesê dit is vir hulle uiters belangrik om op voetsoolvlak met die makelaars te gesels. Die bestuur by hoofkantoor weet byvoorbeeld glad nie wat die versekeringsbehoefte van ʼn bokboer op Aberdeen is nie – en vandaar die slagspreuk “plaaslike kennis is lekkerder”!

 

Andries Wiese, bestuurder van nasionale sakeontwikkeling en hoof van landbou by Hollard. (Foto: Verskaf)

 

Hollard bedien kliënte oor ʼn wye spektrum, van landbou en vragvervoer tot mynbou en konstruksie, en daarom is plaaslike versekeringsoplossings vir plaaslike uitdagings vir die maatskappy belangrik.

Nash Omar, uitvoerende hoof van Hollard, sê om ʼn doelgedrewe, “kyk-in-die-oog-handdruk”-versekeraar te wees, beteken dat Hollard trots is op persoonlike wisselwerking te midde van die opkoms van kunsmatige intelligensie.

“Die wêreld verander voortdurend, en so ook ons bedryf,” sê hy. “Die afgelope drie jaar was nogal uitdagend aangesien ons ongekende en onstuimige uitdagings die hoof moes bied. As ʼn bedryf het ons egter die toets van tyd deurstaan terwyl makelaars waarde toegevoeg het en die manier waarop ons werk vir altyd verander het.”

Nash Omar, uitvoerende hoof van Hollard. (Foto: Du Preez de Villiers) 

“Versekering is die hartklop van elke bedryf, en in ʼn onstuimige wêreld is dit fisieke vennootskappe wat deurslaggewend is om deel te vorm van ʼn groter gemeenskap. Of jy nou in die rustige Nelspruit of in die gejaagde Johannesburg is, daar sal nooit ʼn benadering kan wees wat almal pas nie, aangesien gemeenskappe en makelaars se behoeftes van streek tot streek verskil.”

Abdul Ebrahim, hoof van Hollard se Johannesburg-streek, sê elke streek het ʼn eiesoortige gemeenskap, risiko-uitdagings en oplossings. “Om ons kliënte te ontmoet waar hulle is, is noodsaaklik om ʼn uitsonderlike diens te lewer. Dit sluit in dat ons jou taal moet verstaan waar jy is.”

Hy sê Covid-19, erge weersomstandighede, onluste en beurtkrag het getoon dat “die kwessies waarmee ons te kampe het, ons maak wie ons is – ʼn plaaslike gemeenskap”.

 

Abdul Ebrahim, hoof van Hollard se Johannesburg-streek. (Foto: Verskaf)

 

Pierre Geyer, Hollard se uitvoerende hoof vir streke en vragmotors, sê versekering gaan nie oor ʼn klomp name op ʼn sigblad nie, maar oor mense, [omdat] mense tog juis met mense sake doen.”

 

Pierre Geyer, Hollard se uitvoerende hoof vir streke en vragmotors. (Foto: Verskaf)

 

Michelle Wedderburn, uitvoerende hoof van Broker Solutions Group, ʼn administreerder van korttermynversekering, sê die wyse waarop die versekeringsbedryf saamgetrek het om verligting tydens die pandemie te bied, “met begrip dat mense finansieel swaar belas is en hul werk verloor het”, wys die menslikheid daarvan. Daar was ʼn gevoel van gemeenskaplikheid, sorg en verantwoordelikheid om op te tree en die regte ding te doen.”

  • Klik hier om die veldtogvideo te sien: https://www.youtube.com/watch?v=TCJeuKvzXdE

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.